Uit die Engelse vertaling van ‘wrestle’ moet ek erken dat ek die meer direkte vertaling van
‘worstel’ eerder as ‘stoei’ verkies wanneer dit by geestelike dinge kom. Stoei is vir
my twee uitgegroeide manne met net sulke klein broekies aan wat ’n voetpad al in die rondte stap in ’n kryt terwyl die skare mal word.
Maar worstel… worstel is vir my daardie tannie op haar knieë in die middel van die nag wanneer haar seun se bed nog opgemaak staan.
Worstel is vir my die man wat met sy kop op sy stuurwiel rus voor hy in die huis ingaan en sy happy-face opplak.
Worstel is my vriendinnetjie se gesig wat ek skielik op die Huisgenoot-voorblad raaksien in Checkers en ek blaai tot waar sy langs haar baba-dogtertjie se hospitaalbed sit.
Worstel is… persoonlik. Dit is intens. En dit is so dikwels iets waarvan ons eerder wil
weghardloop.
Wie beter om ons daarvan te vertel as Jakob? In Genesis 32 lees ons van Jakob se worstelstryd met God.
Jakob en sy tweelingboetie Esau het maar altyd ’n gespanne verhouding gehad. Toe hulle
nog jonk was, het Jakob alewig maniere gesoek om sy boetie uit te oorlê. Hy was ’n regte
conniver – menende: sy taktiek was nie altyd heeltemal aan hierdie kant van reg nie en
uiteindelik het hy vir Esau toe ook uit sy eersgeborereg en nou moes hy fyntrap. Esau het
net mooi genoeg gehad. So… Jakob besluit sy mediese fonds dek nie noodlottige beserings nie en hy trek. Sommer na ’n ander land toe.
Daar waar Jakob se oom gebly het, het hy wat Jakob is toe sommer ’n paar vroue getrou en
vir sy skoonpa gewerk en lekker ryk geword. Uiteindelik, na ongeveer 20 jaar, het Jakob
besluit om terug te gaan Kanaän toe – want dit was wat die Here van hom gevra het.
Hoe nader hy egter aan die huis gekom het, hoe meer het hy begin wonder of Esau hom dalk nog steeds dood wou sien… En hy bid:
“God van my oupa Abraham en my pa, Isak! Here, U het gesê ek moet teruggaan na my land en my familie toe. U het belowe dat U vir my goed sal wees. Ek is nie al die gunste wat U vir u dienaar gedoen het, werd nie. Toe ek destyds oor die Jordaan gegaan het, het ek net ’n stapstok besit. Nou het ek hierdie twee groepe mense! Here, red my tog asseblief uit die
hand van my broer Esau. Ek is bang dat hy kom om my, my vroue en my kinders dood te
maak. U het tog mos belowe om vir my goed te wees en om my nageslag te vermeerder
sodat hulle so baie sal wees soos die sand by die see – te veel om te tel.”
Gen 32:9-12 NLV
Jakob het geweet dat selfs springbokbiltong en warm kerkbasaar melktert nie genoeg sou
wees as Esau se drif nog nie bedaar het nie, en tipies mens, wou hy darem self ook iets
probeer… Nou ja, ek is geen boer nie, maar hierdie klink vir my na baie!
“Jakob het die nag daar oorgebly en ’n geskenk vir Esau uit sy besittings gereed gekry. Dit
was 200 bokooie en twintig ramme, 200 skaapooie en twintig ramme, 1530 kameelkoeie met
hulle kalwers, 40 koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste.”
Gen 32:13-15
Die aand voordat Jakob vir die eerste keer in 20 jaar weer sy broer sou sien, stuur hy sy vrou
en kinders saam met sy slavinvroue deur die Jabbokrivier met al hulle besittings en hy
besluit om alleen hierdie kant te oornag. Weerloos.
Nie lank daarna nie, lees ons:
“’n Man het gekom en met hom gestoei tot dagbreek toe.”
Gen 32:24 NLV
Dan lees ons verder:
“Toe die man sien dat hy hom nie kon onderkry nie het hy Jakob op sy heup geslaan sodat dit uit die potjie spring. Toe sê die man: “Los my nou, die dag begin al breek.”
Uitasem sê Jakob: “Ek sal jou net laat gaan as jy my seën.”
“Wat is jou naam?” vra die man.
Hy antwoord: “Jakob.””
Gen 32:25-27 NLV
In die dae van die ou testament het die naam Jakob beteken: Onderkruiper, ’n oneerlike
wurm. Jakob sê dit. Hy erken dit.
Dan antwoord die stem hom:
“Jou naam sal nie meer Jakob wees nie,” sê die man vir hom. “Van nou af is dit Israel, want jy het met God en mens geworstel en nie kopgegee nie.”
Gen 32:28
Het jy al ooit met God geworstel…? Geestelik geworstel?
Ek begin al hoe meer agterkom dat ons êrens die idee gekry het dat ’n goeie Christen-mens dit nie mág doen nie. Al vertel die Bybel ons anders.
* Abraham het met God geworstel toe hy probeer het om 10 regverdige mense in Sodom te kry. Weer-en-weer is hy terug na God toe om sy saak te bepleit en die lewens te red van hulle wat daar gebly het.
* Moses het met God geworstel toe God sê dat hy Egipte toe moet gaan om Sy volk te gaan bevry van slawerny. Moses het alles probeer om homself daar uit te kry – hy het sommer baie verskoninkies gehad. En dan, heelwat later, worstel Moses met God terwyl hy pleit vir die vergifnis van die Volk wanneer hulle neerval voor die goue kalf.
* Job worstel met God deur sy beproewinge heen – hy wou weet: hoekom??
* In die nuwe testament lees ons hoedat Jesus self, daar in die Tuin van Getsemane, met God geworstel het… Sy menswees en Sy Godwees het kliphard met mekaar geveg daar.
Wanneer was die laaste keer, indien ooit, dat jy met die Here geworstel het?
Dalk was (is) jy opsoek na ’n duidelike, Goddelike rigtingwyser vir jou lewe – en jy worstel.
Dalk het jy jouself soos Job voor God se voete neergegooi en met hom geworstel oor genesing van siekte – van jouself of iemand wat jy liefhet
Dalk worstel jy met God oor die toekoms – van jou kerk, jou land, jou kinders.
Dalk weier jy ook om te laat gaan voordat God jou nie seën nie!
Maar hoe lyk iemand wat met God worstel?
§ Om waarlik met die Here te worstel, is dit nodig om alleen te wees. Maar het julle al agtergekom hoe verskiklik moeilik dit is om ALLEEN te wees in vandag se tyd? Ek
praat nie van eensaam nie. My pa het altyd vertel hoe eensaam hy was toe hy vars
van die plaas in Bultfontein se omgewing by Kemptonpark se spoorwegkollege aangekom het – tussen duisende ander studente.
Maar ek praat van alleen-wees, nie eensaam nie. Alleen-wees beteken weg van mense, selfone, e-posse, radio, televisie… Dalk is dit genoeg om jou nagmerries te gee!
Tog is dit juis wanneer mense totaal alleen is, dat hulle voel hoe naby die Here is.
Natuurlik is Hy altyd en oral om ons, maar wanneer ons nooit alleen is nie, is Hy
geneig om net 'n deel van die skare om my te word.
Wanneer ek tyd maak om waarlik alleen te wees met die verwagting dat ek Hom
daar sal ontmoet, skep dit die platform vir ’n in-die-oë kyk, gefokusde ontmoeting
met die Here. Om te worstel, as dit moet.
Jakob moes alleen wees daarvoor. Huismense en kinders wegstuur.
Soms moet jy dalk ook.
§ ’n Ware worsteling met God gebeur slegs wanneer ek bereid is om totaal weerloos te wees. Wanneer ek kan laat gaan van my menslike ego en aanvaar dat ek nie
perfek is nie en dalk toe nou nie al die antwoorde het nie. Ek moet op ’n plek kom
waar ek al my vooropgestelde idees en persepsies, my oortuigings – dit waarop ek
nog my hele lewe staan, moet kan laat gaan.
Jakob moes leer dat die enigste manier om met jou lewe daarvan af te kom wanneer
jy met God worstel, is om te verloor. Alles te verloor. En dan vas te hou aan Hom vir
al wat jy werd is.
Want Jakob het nog altyd mense en situasies “gebruik”. Hier kom hy egter op ’n
plek waar hy besef dat hy nie vir God kan gebruik om maar net sy eie sin te kry nie.
God is die een wat in beheer is. God bring Jakob op sy knieë. God bring hom by ‘n
plek waar hy nie anders kan as om aan sy Skepper vas te hou nie. En dan ontvang hy
God se beste deel.
Ons lees nêrens wat die seën is wat Jakob daar ontvang het nie. Dat dit dalk die
blote feit was dat hy kon bly lewe en sy oupa Abraham se seën tot uitvoer bring, is
seker nie onmoontlik nie. Maar ek sou ook wou glo dat hierdie begin van hulle
noue, persoonlike verhouding vir hom vreeslik baie seën sou inhou – sy hele lewe
lank.
§ Om waarlik met God te worstel los my anders as hoe ek was toe ek by daardie punt aangekom het. Jakob het weggestap van sy worsteling – permanent gemerk en
verander. Hoe kan jy met die Here worstel en nie op ’n manier verander nie? God
kom en verander Jakob se hele identiteit.
Jakob ‘Die Conniver’ hoef hierdie keer niks onderduims gedoen het om sy seën te
kry nie. Sy blote weiering om God se belofte te laat gaan, het hom met God se seën
gelaat. Soveel so dat ons in Hebr 11:21 hiervan lees onder al die geloofshelde:
“Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed albei seuns van Josef geseën en
biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het.”
NLV
Iemand wat met God worstel, verander. Dan doen hulle anders. Dan dink hulle
anders.
§ Om te worstel, maak ons sterker. Dit klink dalk heeltemal teenstrydig met wat ons
menslike verstandjies kan begryp. Tog is dit juis wanneer ons besef dat ons uit ons
eie uit geen berge kan versit nie, wanneer ons eie fisiese krag totaal en al uitgeput
is, dat die krag wat binne ons is tot volle uiting kom.
Jakob het die krag gekry om sy broer, Esau, in die oë te gaan kyk. Ek lees op ’n plek
die kommentaar dat Jakob nou kans gesien het vir enige skermutseling omdat hy
geweet het dat God, die kampioen-rofstoeier, aan sy kant was!
“Take note of what God did when he wrestled Jacob. Jacob began the night
dreading Esau’s arrival. He was full of fear and desperation.
But he ended the night of struggle with God’s blessing and a renewed faith.
All of our struggling with God in faith leads to peace.”
Jon Bloom
Wat ervaar iemand wat met God worstel? Wat gebeur wanneer iemand met God worstel?
In Deel 2 van Worstel jy nog met God? volgende week…
http://www.crosswalk.com/faith/spiritual-life/how-wrestling-with-god-will-changeyou-forever.html
https://randykhammer.wordpress.com/2012/06/17/men-who-wrestled-with-god/
(Foto deur Tim Marshall op Unsplash)
Comments