top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Waar my afdraaipaadjies stop



DIE HERE IS MY HERDER

Met apologie aan Koning Dawid.


Die Here is my herder;

Die Een wat die ryp en die reën maak

Wat vir die branders sê: “Net tot hier…”

Dis Hy vir wie ek my paspoort finaal opgee

Die Een wat my naam gegraveer het op hemelse papier


niks sal my ontbreek nie.

Want wat het ek nodig behalwe vir Hom?

Wat is daar wat ek meer sal wil hê?

Sy nabyheid is my alles, al het ek niks

Sy woorde in my hart en my kop en my siel, as alles te veel word om te sê


Hy laat my neerlê in groen weivelde;

Hy láát my.

Hy láát my neerlê in groen weivelde

Want soms is ek te dwaas om sien die pad is ‘n wiel

En ek die hamster wat wil glo ek is een van die helde


na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Soms is dit water vir bloed afwas

Soms is dit waters vir die dors

Maar soms laat drink Hy my diep van Homself

Laat weet Hy my ek mag maar mors


Hy verkwik my siel;

Soos vrede na lank se huil

Soos uitkoms na lank se wag

Hy weet my beursie en my lyf het dit nodig

Maar bo alles wil Hy my weer hoor lag


Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Want wanneer ek dink soos Hy sou dink

En maak soos Hy sou maak

Is dit nie meer vir my wat hulle sien nie

Hulle sien Hom dan nou in my raak


Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie;

Doodskaduwee kom toegedraai in grafdoeke

van siekte en lyding en seer

Tog sal ek die donker gang nie vrees nie

Want kyk dan net wat skryf Dawid hier neer:


want U is met my: U stok en U staf dié vertroos my.

Niks van dit sal my alleen kan vang nie

U is mét my elke oomblik van elke dag

U beskerm my met die een en lei met die ander

En dit maak elke dag se juk vir my sag


U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders;

Hulle sal nie daar Bo wees eendag nie

So dit moet my tog troos

Die tafel waar hulle U goedheid sal sien

Sal hier op aarde al wees, oop en skaamteloos bloot


U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Nes herders van ouds

Gesalf teen die vlieë en die goed wat pla

Sodat ek luidkeels kan slurp uit my piering

Onaangeraak deur dit wat die wêreld wil hê ek moet dra


Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;

Hulle soek my en hulle vind my

waar ek dit die minste verwag

En steeds staan ek verstom oor Sy goedheid

wat my nie net raakloop nie, maar my jag


en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Sy huis het ‘n kamer vir my

‘n Deur met my naam in lopende skrif daarop

En eendag sal totsiens en amen nie meer nodig wees nie

Want dit sal wees waar my afdraaipaadjies stop.



Jou inspirasie vir die week: I give You my dreams


Comments


bottom of page