As ek nou vandag my rykdom voor die Here moes uitpak, wat sou dit wees?
My man wat my so lief het soos wat ek nog nooit liefgehad is nie?
Onse Katie wat met net drie tande oopmond kan lag, nes ‘n mens?
My penskribbels wat my soveel genot verskaf…?
Sou Hy vra vir my besittings, sou ek een trappie laer moes staan.
My karretjie wat nou veel minder werd is as vantevore, maar tog nou soveel meer.
Ons 5 x 5 tuintjie waarvan elke vierkante meter ‘n voorheen-ongekende stukkie vreugde bring.
Die tweedehandse broodmasjientjie waarmee ons onsself, en die bure, so lekker kan bederf!
Rykdom, besittings… wat bly oor?
Toe Jesus die vrou by die put ontmoet, vra Hy van haar dit wat sy het.
Hy vra haar vir water.
Op daardie oomblik in tyd was dit al wat sy gehad het om vir Hom te gee, en Hy vra nie meer nie as dit nie.
Haar gebrek aan ewigheidsgoed praat Hy nie goed nie, maar Hy veroordeel ook nie.
Hy laat haar bloot weet dat Hy weet.
En dan bied Hy haar iets in ruil aan.
Sy het niks gehad om haar verdienstelikheid te wys nie.
Sy het niks gehad om vergifnis mee te koop nie.
En juis vir haar bied die Here Sy Lewende Water aan.
Hoe diep moes Hy nie gekyk het nie!
Verby die bure se saggiespraat agter gebakte hande,
verby die vyf ekse en hulle bagasie wat haar hele lewe vol staan,
verby die Samaritaankenteken wat haar oral agtervolg en waarvan sy nie kon wegkom nie.
Hy vra van haar net dit wat sy het, net daar waar Hy haar ontmoet.
Hierdie week is baie mense put toe gelok.
Rykdom, besittings… snaaks hoe dit irrelevant raak in die middel van die woestyn by ‘n put met ‘n emmer aan die een kant en hoop aan die ander.
Die mense by die put…
Die basiese wat hulle kon doen, was ál wat hulle kon doen.
Siekte en hartseer en dood en werkstres en geldgemors en die Swart Hond het hulle met niks anders gelos nie.
Al wat hulle nog kon doen, was om een voet voor die ander te sit en te gaan water skep.
En die Here vat dit en Hy gebruik dit en Hy skep ‘n geleentheid waar Hy die mense by die put ‘n keuse laat: Soek jy water, of soek jy Lewe?
Maak nie saak of jy met niks behalwe jou dors daar aankom nie.
Jy kan wegstap met alles.
“Jesus answered, ‘You don’t know what God wants to give you…’ “
John 4:10 CEV
Sy het nie gegaan om Hom te ontmoet nie.
Hy was daar om haar te ontmoet.
Jou temalied vir die week: Safe here
Comments