Gistermiddag kuier ons saam met nuwerige UK-vriende rondom die tv, saamgebind deur groen bloed in ons are, ons opinies oor die skeidsregter se besluite en ons gedeelde asemophou in die laaste vier minute.
Met Siya se kamera-oomblik, is die skares (beide binne en buite daardie stadion) se vreugde nog so groot, dat ek hom misverstaan, maar dis vir my so mooi en ek meen hy gooi sommer bietjie Afrikaans ook in – oulik! Hy vertel van die busrit oppad na die groot wedstryd en hoe dit vir hom so mooi is as die mense van Suid-Afrika almal bymekaarkom vir die groter goedheid, selfs “homeless people”.
Nie die “oumens people”, soos wat ek dit hoor nie…
Of jy nou “homeless people” of “oumens people” is vandag, daar is ‘n wonderlike belofte vir jou. Dis nou as jy glo dat goeie Christenmense waarlik bestaan op hierdie aarde.
Want vir dáárdie mense, die “Christian people” word daar geskryf dat hulle geen mens enige iets verskuldig moet wees, behalwe om vir hulle lief te wees nie.
“Owe nothing to anyone except to love and seek the best for one another; for he who [unselfishly] loves his neighbor has fulfilled the
[essence of the] law [relating to one’s fellowman].”
Romans 13:8 AMP
Vanoggend besef ek vir die eerste keer dat dit eintlik beteken dat ek vir mense so lief moet wees dat wanneer ek hulle vra, “wat skuld ek jou nog?”, hulle in alle eerlikheid moet kan sê, “niks nie.”
Dit is ‘n daaglikse stryd.
Ek sien gister ‘n meme van Jesus, waar Hy tussen The Hulk, Iron Man, Captain America en Flash staan in hulle helder gekleurde klere, spiere wat bult, terwyl hulle probeer om ‘n groot houtkruis op te tel, een op elke punt.
Probéér.
Want al wat Jesus vir hulle sê is, “It’s heavy, hey?”
Soms voel dit baie swaar om vir ander so lief te wees.
Dit voel of jy dit net nie kan doen nie.
Jy is dalk so sterk in ander rigtings en selfs geestelike gawes, die ander vrugte van die Gees blink dalk almal rypvet en gesond in jou voorportaal waar almal dit met die intrapslag kan sien, maar liefde – liefde vir ALMAL – is die een ding wat sukkel om te geil te groei.
Want mense se houdings en maniertjies en praatjies en denkwyses loop vreet gaatjies in jou perfekte idee van wie waardig is om liefgehê te word.
En jou liefhê bly klein.
Gelukkig het ons hierdie belofte:
“Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk
sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is
toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom
die belangrikste plek in die hemel gegee het.
Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene.”
Efesiërs 1:19 Die Boodskap
Daardie selfde krag antwoord elke roep van “méér liefde, asseblief”…
Mag die “homeless people” en die “oumens people” én
die mense wie se houdings en maniertjies en praatjies so baie van my eie verskil,
onderstebo gegooi word deur die onverwagsheid en
omvang van Christus se liefde
wat uit my borrel,
aangeblaas deur die passie en
gedetermineerdheid van die Gees
wat elke liewe “people” wil bedek
met Sy liefde!
Jou inspirasie vir die week: Love’s got a way
Comments