Ek het hierdie week ‘n voetfoutjie begaan, soos mens mos maar doen.
In die oomblik was my eerste reaksie ‘n intense berou, want dit kon my man se toekoms wesenlik beïnvloed.
En toe, díé besef: Niks wat ek verkeerd doen (per ongeluk of andersins) kan die Here se plan vir my man se toekoms pootjie nie.
Ék kan die Here nie pootjie nie.
Dit is in hierdie oomblikke dat ‘n mens besef hoeveel groeigenade jy al deur die jare ontvang het.
Die ou ek sou so maklik verdrink het in selfverwyt en slapelose nagte.
Die nuwe mens glo dat die Here kyk na ‘n mens se hartsmotief en dat Hy moeiteloos in beheer bly ten spyte van Sy kinders se goeie intensies.
Asof dit nie genoeg is nie, gee die Here ons dan ook die vrymoedigheid om te getuig van ons kleivoete. Daai kleivoete wat steeds liefdevol hervorm word deur die Een wat reeds voor die bestaan van tyd al elke mens se hele bestaan uitgedink en -gedroom het en nooit onkant gevang word nie.
As die Here besluit het om jou te seën, wie sal dit onklaar kan maak?
Nie eers jyself nie.
As die Here besluit het om jou te stuur en te seën, wie sal dit kan onkant maak?
Nie eers jyself nie.
Paulus se lewe ná sy Damaskusondervinding was alles behalwe prettig. Maar elke keer as hy in die kaak van die vyand beland, word daar van hom gevra om weer te deel, weer te getuig, en druk hy daai slagtande met oortuiging wawyd oop wanneer hy weer-en-weer vertel van die God wat hom gestuur het:
“‘I’m sending you off to open the eyes of the outsiders
so they can see the difference between dark and light, and choose light,
see the difference between Satan and God, and choose God.
I’m sending you off to present my offer of sins forgiven, and a place in the family,
inviting them into the company of those who begin real living by believing in Me.’”
Acts 26:17 The Message
Dis ‘n uitnodiging aan die dooies om te begin lewe.
Nes die vermakerige jong man wat die prediker wou verneder.
“U meen dat ongeredde mense ‘n swaar las van sonde met hulle saamdra.
Maar ek voel dan niks?
Hoe swaar is sonde?
Tien kilogram? Vyftig kilogram? ‘n Honderd kilogram?”
Die prediker het net vir ‘n oomblik gedink, en antwoord hom toe:
“As jy ‘n 400-kilogram gewig op ‘n lyk sou neersit, sou die lyk die gewig daarvan kon voel?”
“Natuurlik nie,” antwoord die jong man.
“Dit is dan dood!”
“Juistement, my jong vriend,” gee die prediker hom toe.
“Die mens wat die Here nie ken nie, is net so dood, en al is die las van sonde swaar, kan hulle dit nie voel nie.”
Solank ons nog die gewig van ons sonde voel, wys dit daar is lewe.
Ons hoef egter nie verswelg te word onder die gewig daarvan nie, want daar is Een wat dit reeds vir ons gedra het.
En wat elke nuwe môre Sy hande uitsteek om dit weer by ons te vat.
Sodat ons kan vertel daarvan.
Jou inspirasie vir die week: Stand in faith
Comentarios