Julle het sekerlik al die tronk-movies gesien waar die besoeker deur die gevangeniswerf sou stap na die tronkgebou toe, veilig tussen mure van gegalvaniseerde blokkiesdraad met ‘n lemmetjiesrolpatroontjie bo-op. En gewoonlik is dit net so ‘n smal gangetjie, terwyl die permanente inwoners die res van die werf hulle s’n kan maak.
Toe onse Ds. Chris vandag preek oor die smal en die breë weg in Mattheus 7, het hierdie prentjie vir die eerste keer ooit by my opgekom.
Vir ons voel dit dalk belemmerend – hierdie beperkte beweegruimte.
En wanneer ons vir die eerste keer daar loop, voel dit dalk of dit óns is wat in ‘n tronk is.
Ons “vryheid” is vir die oomblik aan bande gelê, maar net tot ons besef – dit is juis dít wat ons veilig hou.
Want wanneer jy jou grootmens-oë mooi oopmaak, sien jy vinnig dat die grote van die werf net ‘n waterskim van vryheid is, want agter meters en meters van oopte is daar uiteindelik nog ‘n heining, sommer ‘n dubbele een, met ‘n muur en uitkykpunte en kameras en soms ook gewapende wagte.
En die lewe binne daardie waterskim is alles behalwe veilig.
Ek volg @godbehindbars op Instagram. Hulle werk is om Jesus te vat na hulle wat nou aan daardie kant van die smal gangetjies bly. Elke keer as ek sien hoedat ‘n groot, intimiderende mens (man of vrou) met agressiewe tatoo’s en bende-letsels vertel watter werk Jesus in hulle lewens gedoen het, wil ek huil oor die goedheid van ons God.
Want al is hulle nou aan daardie kant van die smal gangetjie, is hulle vry.
En op ‘n manier, is hulle nou veilig.
Want al sou hulle hulle lewens daar verloor, sou die hemel vir hulle wag.
Kom ons erken dit nou maar: Hoeveel keer was ek en jy nie al in ons eie tronk nie? Daardie goed wat vir jou gevange hou, waarvan niemand dalk weet nie.
(Ek het aanvanklik eers begin met ‘n lysie hier, maar ek hoef nie. Jy weet waarvan ek praat.)
Dit bring dalk momentêre verbeeldingsvryheid, maar dit is alles behalwe veilig daar.
Hierdie week lees ek van Paulus wat vir die hoeveelste keer in die tronk was. Wat my egter opgeval het van hierdie rondte, is hoedat Goewerneur Feliks vir twee jaar vir Paulus na hom toe laat bring het, hoe hy en selfs sy vrou ook gereelde gesprekke met Paulus gehad het, eerstehands kon hoor van Jesus en dit wat Hy vra van ‘n Christelike lewe.
Na twee jaar, los die goewerneur vir Paulus in die tronk, in die hande van sy opvolger.
En besluit hy om eerder ‘n gevangene te bly.
Sien, tussen die twee van hulle, is dit Paulus wat geweet het wat dit was om vry te wees.
Wanneer ek weer na mense om my kyk wat lyk of hulle lewens belemmer word deur dit wat Jesus van hulle vra, moet ek dalk mooi dink aan watter kant van die smal gangetjie ek staan.
“Twee jaar later het Feliks ’n opvolger gekry, Porsius Festus.
Omdat Feliks die Jode ’n guns wou bewys,
het hy by sy vertrek vir Paulus in die tronk gelos.”
Handelinge 24:27 NLV
Jou inspirasie vir die week: Changed
Comments