Ek trek nou by Jona en dit is maklik om té gemaklik te wees met die ou-ou storie van die man, die vis en die wonderwerk. Gelukkig is die Bybel soos een groot kaleidoskoop van lesse en elke keer as jy dit optel, dan sien jy heel moontlik ‘n nuwe prentjie uitgelê met dieselfde 700,000 woorde van wysheid.
Vandag praat Jona met my oor grense – boundaries.
Hierdie man (van God) maak verkeerde keuses en sy optrede bring die lewens van die bemanning van sy wegkomboot in groot gevaar. Hulle enigste redding is om hulle grense styf te trek en Jona oorboord te gooi. Net daarna, bedaar die see om hulle – en uiteindelik ín hulle ook.
Dit klink dalk wreed, maar die bemanning het nie na Jona se dood gesoek nie.
Hulle was bloot moeg geveg met die mag van die oseaan, moedeloos omdat hulle nie agter die oorsaak van die storm kon kom nie, hulle was gereed vir vrede.
En hulle gee Jona in die hand van Sy God.
In my geestesoog kan ek sien hoe hulle deur die woeste wind en seesproei hartseer toekyk hoedat Jona onder die eerste branders verdwyn terwyl hulle wonder of hulle die regte ding gedoen het.
Grense is belangrik.
Grense is belangrik vir gesonde verhoudings.
Grense is belangrik vir fisiese gesondheid.
‘n Gebrek aan grense kan lei na ongesonde afhanklikheid van mense, depressie, angstigheid en stresverwante pyne en kwale.
Grense was vir Jesus ook belangrik. Een van die maniere waarop Jesus daardie drade styfgetrek het, was om “nee” te sê vir onvanpaste gedrag:
Onredelike eise. Wanneer mense te veel van Sy tyd geëis het, het Hy Homself onttrek vir alleentyd met Sy Vader (Lukas 5:15,16).
Mishandeling. Hy veg terug deur die skares wat Hom van ‘n krans wou afgooi omdat Hy verkondig het dat Hy die Messias was (Lukas 4:28-30).
Mense wat hulself goed toe-eien. Jesus het nie eers ie toegelaat dat sy eie ma en broers hulle bloedverbintenis met Hom gebruik om ‘n plek bo ander te kry nie (Matt 12:46-50).
Uitlokkery. Toe die skrifgeleerdes Hom wou uitvang met hulle uitlokkende vrae, het Jesus stewig by Sy grense bly staan en hulle eerder met weldeurdagte vrae van Sy eie geantwoord (Matt 21:23-27, 22:15-22).
Skeptisisme. Toe Herodus Hom wou uitlok om Sy grense te verslap en te wys dat Hy wel die Seun van God was deur ‘n party-trick-wonderwerk of twee op te tower, het Jesus geweier (Lukas 23:8-9).
Manipulasie. Hy weier om ingetrek te word in Petrus en die ander dissipels se siening dat Hy ‘n politieke koning of militêre leier moet wees, eerder as ‘n Offerlam (Matt 16:23).
Trots. Wanneer mense te trots was om Hom te vertrou, het Jesus hulle nie gesond gemaak nie, al kon Hy (Matt 13:58).
En dit alles het Hy gedoen sonder om te sondig.
Goeie grense maak vir goeie buurmanskap, lui die gesegde.
Dalk hang jou grensdrade slap vanaand.
Dalk is die onderste drie vir kilometers al pap gery deur mense wat jou goedhartigheid uitbuit.
Loop kry dan vandag nog ‘n draadtang by die Herder en trek hulle weer styf.
Jou sielsvrede is belangriker as wat mense van jou dink.
Jou inspirasie vir die week: No weapon
Comments