“Die Here sê: ‘Ek sal hulle beskerm.
Ek sal vir hulle soos ’n muur van vuur wees wat om hulle gebou is.
Binne-in die stad sal hulle weet dat Ek daar is.
Hulle sal weet dat Ek groot en sterk is.’”
Sagaria 2:5 Die Boodskap
Julle weet ek is ‘n platteland-se-kind. Nou nie plaas-plaas nie, maar plaasmense-se-wêreld-se-kjint.
Daar waar nie tyd of plek is vir te veel fieterjasies nie.
Van Trompsburg na Bloemfontein tot in Pretoria mis die fenomeen my dus heeltemal, en so bederf ek myself met my heel eerste stel Grootmensnaels net ‘n dag of wat voor ons twee se troue. Natuurlik effens langer as wat enige praktiese mens in die werklike lewe kan gebruik, want dis mos darem troustories!
Nodeloos om te sê – die tweede dag op wittebrood, toe moes daardie plastiekpointers af! Sommer so knip-knip en byt-byt in die kar oppad Stormsrivier toe. Ek weet, ek weet… die hele Naelbrigade ril nou. Want dit is níé hoe jy dit doen nie.
Ewenwel…
So ‘n maand of wat later wonder ek wat sal gebeur met ‘n tweede probeerslag. Die lengte dalk net so bietjie getem, en dalk met ‘n langer induksieperiode voor ek die eksperiment as ‘n mislukking klassifiseer…?
17 jaar later kan mens seker die aanloklikheid beskryf as ‘n gewoonte.
Hier in Engeland was die aanpassing… interessant. Want hier is Adam’s wat die Eva’s se hande so mooi versorg en dit was… interessant. Soos reeds genoem.
Vind toe ‘n oulike Chinese Katie (om te pas by ons SA Katie, natuurlik) en sy word my gereelde instandhoudingsindraai.
En toe, in jaar 18, gebeur COVID. Katie-hulle maak toe en so ook elke ander Adam en Eva wat naels doen. Vir 15 maande loop ek rond met my eie, oorspronklikes – net so bietjie opgezhoos. Maar nie te veel nie – ons werk nog van die huis af.
Toe die ergste versigtigheid eers verby is, het my werk-ticklysie egter die opslaan van ‘n rooi gazebo bygekry (jy kan hiervan gaan lees by Lesse uit ‘n Rooi Gazebo) en ek het gedink dit sou fataal wees om die bloeitjies bloot te stel aan soveel rowwigheid.
Tot ‘n week gelede. Julle weet mos hoe ‘n mens die dringendheid kry om jouself so ‘n bietjie te pamperlang… die haartjies word gekleur (uit ‘n boks, of nie), die voete word gespa (in die sitkamer, of by die Regte Een), en vir my was dit toe Nuwe Naels. By Katie.
Na twee jaar gaan kuier ek weer daar en stap uit met ‘n French op die naels en ‘n glimlag in my hart. Small things amuses small minds, dink sommige van julle dalk nou.
Ek verkies om te sien hoe ‘n mens vreugdes kan vind in die klein dingetjies in die lewe.
En buitendien – dit het my iets gegee om met julle te deel vanaand.
Want sedert ek my Nuwe Naels het, kom ek agter:
Ek vat sagter. Of dit nou die wasmasjiendeurtjie is wat so halstarrig kan wees, of bokse voorraad wat ek moet oopmaak, my oorbel wat op die badkamervloer beland, of die 6-pak liter-waters wat oopgemaak, afgevee en gebêre moet word.
Alles word sagter hanteer.
Myself ook.
Die maskara-merk op my oog word baie versigtiger benader.
My lyfroom met meer eerbied aangesmeer.
My denim versigtiger vasgemaak en toegezip.
Ek is sagter met myself.
Vir die Adam’s wat niks met naels te doen het nie, klink hierdie dalk na totale onsin.
En vir die Eva’s wat dit nog nooit nodig geag het om enige iets anders as jou eie te hê nie, dalk ook.
Maar vir iemand wat gewoond was om te vat wanneer ek vat, nie twee keer te dink om iets met geweld te wil uitrig nie, en nie terug te staan om self sterkbaba te speel as daar nie ‘n Adonis in die omtrek was nie, was dit ‘n wonderlike tuiskoms.
Ek kan maar sagter wees met die wêreld.
En met myself.
Die Here vorm ‘n muur van vuur om my.
Ek hoef nie self brandweer en brandblusser en redder te speel nie.
Ek mag maar sag wees en Hom toelaat om die beskermwerk te doen.
Soos wat Hy belowe het.
En wanneer ek rooi gazebo’s moet opslaan, sal Hy my wys hoe om met ‘n sagte hand die werk te doen wat nodig is.
Soos wat Hy belowe het.
“Ek gryp jou regterhand vas.
Ek is die Here jou God.
En Ek sê vir jou:
‘Moenie bang wees nie.
Ek is daar om jou te help!’”
Jesaja 41:13 NLV
Jou inspirasie vir die week: GOD will work it out
Comments