top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Jy dink dalk jy is okay waar jy nou is



“God is kind, but He is not soft.

In kindness He takes us firmly by the hand and

leads us into a radical life-change.”

Rom 2:4 The Message

 

Hy is ferm genoeg om ‘n goeie pa te wees.

 

‘n Pa wat jou selfoon sal wegvat.

‘n Pa wat jou 1,000 km ver van jou vriende sal laat verhuis.

‘n Pa wat weier om jou borg te betaal.

‘n Pa wat instem dat die dokter jou been kan amputeer.

‘n Pa wat nie die onderwyser wat jou swak gedrag aangespreek het hof toe vat nie.

‘n Pa wat daarop aandring dat jy saamgaan kerk toe.

‘n Pa wat nie wil toelaat dat jy ‘n motorfietslisensie kry nie.

 

Wanneer jy die kind is wat aan die hand gevat word en vriendelik, dog ferm, in ‘n rigting gelei word, sien jy gewoonlik net die een kant van die verhaal.

 

Wanneer jy uiteindelik sélf ‘n ouer is, is dit of die rondomtalie begin draai en jy skielik kan sien wat heeltyd agter die skerms aan die gang was…

 

Daardie selfoon het jou hele menswaardigheid ‘n knou gegee.

Daardie vriende het nie jou beste belange op die hart gedra nie.

Daardie een aand in die selle het jou 10,000 aande daar gespaar.

Daardie een been was vir hom minder werd as jou lewe.

Daardie onderwyser was in daardie oomblik vir jou die pa wat hy nie kon wees nie.

Daardie lang Sondae in die kerk sou ‘n saadjie plant waarvan jy dalk vir jare nie bewus sou wees nie.

Daardie lisensie sou kom met die verantwoordelikheid wat nog besig was om gevorm te word.

 

En al is jy nou self ‘n pa of ‘n ma, of beide, bly jy steeds ‘n kind.

Die Here se kind.

 

Soms verstaan ons nie Sy maniere nie.

Wens ons Hy wil bietjie sagter met ons werk.

 

Maar daarvoor is Hy té goed.

Het Hy ons té lief.

Het Hy ons té lief om ons te los wie en waar ons is.

 

Dan maak Hy soos ‘n goeie pa maak, en vat ons liefdevol, maar ferm aan die hand en lei ons na ‘n heel ander plek toe.

 

Jy dink dalk jy is okay waar jy nou is.

Maar as jy lank genoeg in ‘n huis bly wat minder as perfek is, ruik jy naderhand nie meer die vrotgeit nie, sien jy nie meer die gekraakte teëls nie, hoor jy nie meer die trein in die middel van die nag nie.

 

Soms het ons nodig dat die Here ons kom vat van waar ons is

na waar ons moet wees

omdat ons nie meer

die dooie beendere

raaksien

nie.

 

 

Jou inspirasie vir die week:  Remind me


Yorumlar


bottom of page