top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Myne is joune


Ek en my enigste geniet ‘n goeie ‘whodunnit’. Hier kan ons gelukkig steeds ‘n paar gunstelinge volg en Law & Order met sy kenmerkende kenwysie is beslis ‘n gunsteling. Die UK het selfs sy eie weergawe ;-)


Die sukses van die reeks, soos met baie ander, het te doen met ‘n resep: Daar gebeur iets wat ‘n emosie in die kyker uitlok, inligting word versamel en uiteindelik word daardie kennis gebruik om die hele raaisel te ontrafel.


Wat my laat wonder oor alles waaroor ons rentmeesterskap ontvang het.


Ons kinders.

Ons ouers, vir sommige…

Ons diere.

Ons geld.

Ons goed.


Maar wat van ons KENNIS?


Hoe goed gebruik ek dit wat ek deur die jare geleer het?


Sommige lesse het ek grootoog geleer aan die voete van my grootmaakmense.

Ander weer met my gesig in die modder.


As my geld en my goed en my bloed nie my eie is nie, en ek verstaan dit so, moet ek besef dat die kennis wat ek opgedoen het, die ondervinding en lesse wat Die Lewe my geleer het, ook Koninkryksgoed is.


Neem my lewe, laat dit Heer,

U gewy wees meer en meer…


En my lewe IS die lesse, ís die drama, die hartseer en die pyn, die vreugde, die emosie…


Sonder die kennis wat die lewe my geleer het, sou ek ‘n baba in die geloof gebly het.

Ek sou nie kon leer hoe om sterker te word, en die uitdagings van die lewe aan te pak nie.

Ek sou nie geweet het dat môre beter as vandag kan wees nie.


Maar ek het ook geleer omdat ánder mense goeie rentmeesters was van húlle kennis.

Nes die apostels nie geskroom het om te deel nie, leer ek vandag nog by hedendaagse gewillige delers hoe om die lewe te leef met liefde en deernis en vergifnis en nederigheid.


En ek leer by hulle hoe om goeie rentmeesters te wees van die kennis wat ek so my eie maak.


“So you will walk in the way of good men

[that is, those of personal integrity, moral courage and honorable character],

and keep to the paths of the righteous.”

Proverbs 2:20 Amplified Bible


Maar hierdie einste mense van integriteit en morele dapperheid en onberispelike karakter sal kan beaam: Die kennis wat hulle die naaste aan die hart dra, is die kennis wat hulle in die moeilikste tye van hulle lewe bymekaar gemaak het.


En dit is nie altyd maklik om te deel nie.


Neem my goud en silwer, Heer,

niks noem ek my eie meer;

al my kennis en verstand

stel ek in U Vaderhand.



Jou inspirasie vir die week: My Jesus


Comments


bottom of page