top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

'n Af oor is nie die einde nie


Dis nou al net so amper sewe jaar terug dat studente-vriendin, Fienie, my nooi om met die vroue op Kaapsche Hoop te kom deel. En wat ‘n avontuur was dit nie!


Eers die binnelandse vlug van PE af, oor Johannesburg, Nelspruit toe. Die aankomssaal laat geen twyfel dat jy nou naby aan Big Five Country is nie – die Wildtuin is amper net ‘n katspoegie weg en die safari sentiment duik oral voor jou in!


(Noudat ons self in die buiteland bly en baie minder dinge as vanselfsprekend aanvaar, verstaan ons die fassinering met die Grotes van Afrika ook bietjie beter.)


Die verblyf is pragtig en die hele dorpie voel soos ‘n pophuis. Dis ook nie lank voor die wilde perde hulle nuwe gaste kom uitsnuffel nie en dit is net so spesiaal as wat dit klink!


Daardie naweek word daar gelag en gehuil en gesing en goeters verbrand (letterlik) en uiteindelik kry ons elkeen ‘n huistoegaan pakkie wat Fien met groot sorg uitgesoek het.


Myne sluit die mooiste seegroen gekleurde koffiebeker in met die woord GRACE voorop.

Nes op my ringvinger.


Daardie beker sou vir nog 2 jaar in sy boksie bly in my kas met persentjies. Maar toe begin die groot pak vir ons trek annerland toe en ek besluit – híérdie een moet saam!


Dis egter eers redelik onlangs dat ek daardie beker uithaal en werk toe vat.

Daar sou dit soms ‘n opmerking uitlok en ek het myself gevang dat die leë beker gereeld so geposisioneer word, dat naderende verkeer die belofte kon lees: GRACE.


Nie so lank terug nie, is daar egter ‘n geskarrel by die werk, en voor ek kon keer, beland dit op die grond en ‘n mens sien net porselein spat.


My hart wou breek! Dit klink nou sommer simpel, ek weet, maar vir my was dit ‘n baie spesiale, daaglikse herinnering.


Toe ek egter weer kyk, sou ek sien dat dit slegs die oortjie is wat in stukke was. Die beker self, makeer niks.


En toe gee die Here vir my hierdie boodskap:


Alles is nie verlore nie.

Dit is dalk net my greep op Sy genade wat sy plekkie verloor het. So tussen die geskarrel deur.

Sy genade self?

Dit makeer niks.

Dit het nie verander nie.


Daar is geen skerwe in Sy genade wat my binneste kan seermaak nie.

Daar is geen krake in Sy genade waar dit uit kan lek en nutteloos wegsyfer nie.


Dit is steeds doelgemaak.


Al wat dit vra is dat ek my greep verander,

nou beide my hande sal oopmaak om dit te ontvang.


“He didn’t tiptoe around God’s promise asking cautiously skeptical questions.

Hy plunged into the promise and came up strong, ready for God,

sure that God would make good on what He had said.”

Rom 4:20 The Message




Jou inspirasie vir die week: Highs & lows


Comments


bottom of page