top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Uitgezoom



Toe die middeljare Ma Stella bekruip, sou sy gereeld sê hoedat haar arms nou te kort is. As sy mooi wou lees, moes die skriffies bietjie verder, nóg verder, weggehou word…

 

Vandat my man skaars tot by die end van sy neus kan sien, wat nog te sê van sy tone, is ek sy persoonlike toonnaeltegnikus.  Hierdie week hoor ek egter ‘n erg senuagtige giggel hier agter my terwyl ek sy tone verder, nóg bietjie verder weghou, sodat my korrel mooi in fokus kan kom!

 

Soms voel dit vir my ek verloor ook so bietjie fokus wanneer bekende teks half óórbekend raak en in ‘n sekere sin verdof.

 

Soms voel dit vir my ek moet ‘n bietjie uitzoom sodat ou goed weer vir my nuwe betekenis kry:

 

“Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal.

Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word.

Julle lewe moet een groot dankie vir God wees.

En dit kan alleen so wees as julle alles doen

asof Jesus elke tree saam met julle gee.”

Kol 3:17 Die Boodskap

 

Wat as ek hierdie broek sou stryk

asof Jesus dit volgende sou dra?

 

Wat as ek hierdie kombuisvloer sou mop

asof Jesus vanaand by ons sou kom aansit?

 

Wat as ek hierdie toilette sou skoonmaak

asof Jesus die volgende een sou wees om dit te gebruik?

 

Wat as ek sou bestuur

asof Jesus in die kar voor my sou wees?

 

Wat as ek op sosiale media sou gesels

asof Jesus nou-nou daardeur sou scroll?

 

Wat as ek hierdie reeks kyk

asof Jesus langs my met die popcorn sou sit?

 

Wat as ek vanaand op ‘n sinlike tyd gaan slaap

asof Jesus my môre bietjie sou shadow by die werk?

 

Wat as ek my woorde sou weeg en versigtig sou geur

asof Jesus dit sou moes eet?

 

Wat as ek sou kerk toe gaan

asof Jesus vir my ‘n plek sou hou daar langs Hom?

 

Want is dít nie tog maar die eintlike bedoeling met die “alles” waarvan Paulus hier praat nie?

 

“…En dit kan alleen so wees as julle alles doen

asof Jesus elke tree saam met julle gee.”

 

Alles.

Elke tree.

 

So word my lewe een groot dankie.

 

 

Jou inspirasie vir die week:  People like us


1 Comment


Guest
Jun 17

Sjoe, slaan dié een my nogal so tussen die oë! Dankie Maxi.

Like
bottom of page