“While you are guiding others,
who is going to guide you?”
Rom 2:21 The Message
Op ‘n rare daggie af loop ek en hubby in ewe rare sonskyn deur die strate van Swanage, ‘n kusdorpie nie ver van ons huis af nie. Dis somer, so al die winkeldeure is oop en die helfte van die voorraad is buite op die sypaadjie uitgestal as kleurryke lokaas vir die algroeiende voetval van die seisoen.
Dit werk.
Ons stap in-en-uit by snuistery winkeltjies en tweedehandse plekkies, gallerytjies en ‘n plek met oulike troeteldier bederfies.
Hier is die grootnaam kettingwinkels skaars en is daar ‘n unieke karakter anderkant elke drumpel.
Daar is ‘n paar klereplekkies wat my oog trek. Alles is so kleurvol en somerig en ideaal vir die warmer weer.
Dis tóé dat ek die vonds van die jaar raakloop.
Die pragtigste blommerige slooprokkie katrol my in. Net om my te verras met ‘n tweede, net-so-mooi slooprokkie aan die binnekant! Dis ‘n binne-is-buite en buite-is-binne rokkie wat jy beide kante toe kan dra! Hoe oulik is dit nie??!
Die prys wys nou wel dat jy twee vir die prys van twee kry, maar wat ‘n skitterende idee!
My Lydia-vriendin het altyd vir my die lieflikste somerrokkies gemaak toe ons nog in Jeffreys was, maar die ligte materiaal het ook gevra vir ‘n knielengte kamisool daarmee saam. Met hierdie nommertjie is daardie probleem ook sommer uitgesorteer.
Wat my laat dink het hoe ons soms ons geestelike kamisole nadertrek wanneer ons by sommige mense is. Hoe ons so versigtig is om te wys wat aan die ander kant van ons aanloklike buitekante wag.
Maar as ons dieselfde kan wees binne as wat ons buite is, soos hierdie dubbeldoor somerrokkies, dan maak dit nie saak saam met wie ons is of waar ons is nie. Hulle kan ons maar omdop ook – al wat hulle behoort te sien, is… mooi.
Mooi buite en mooi binne.
Terwyl ek vir ander leer hoe om mooi buiterokkies te maak, mag ek nooit vergeet om my eie binnerokkie mooi te maak nie.
Vir wanneer ek omgedop word.
Jou inspirasie vir die week: Disciple of Christ
ความคิดเห็น