Oor drie weke kuier ek en sewentig ander dames ‘n hele naweek lank rondom die ding van Geestelike Volwassenheid, en dit bly gedurig voorop in my gedagtes.
Wanneer jy (geestelik) jonger is, is dit so maklik om te wees wie mense dink jy is.
Want, nes klei, kan hulle gedagtes en hulle woorde oor jou, jou in hoekies en voutjies indruk en jou láát inpas by die idee wat hulle van jou het.
Jou ma wat dink jy is lui.
Jou onderwyser wat dink jy is onredbaar.
Jou man wat dink jy is koud.
Jou sussie wat dink jy is stuck-up.
Jou baas wat dink jy is stupid.
Wanneer jy egter (geestelik) bietjie ouer is en meer tyd in die son gehad het, is dit gewoonlik nie so maklik nie. Want nou is jou Self nie meer so buigbaar en manipuleerbaar nie. Nou besef jy dat jy nie jou hoekies hoef af te skaaf tot die bloed loop net om in die ronde holte van hulle idees oor jou in te pas nie.
Die ding is – ‘n groot deel van ons verstaan van wie ons is, is ons verstaan van wie ons níé is nie. En ons is nie noodwendig dit wat ander mense in ons raaksien nie.
Het jy ook al gedink dat jy Dawid is in die storie oor die fight met Goliat?
Dawid was dapper.
Maar ek voel soms maar nie.
Dawid stap vorentoe ten spyte van ander se vrees oor sy toekoms.
Ander se vrees kom sit soms soos ‘n spinnerak om my sonskyn en maak dit bleek.
En ek wonder of ek Dawid is, of eerder deel van die minder-brawe bataljon wat ‘n treë teruggee toe Goliat vorentoe stap en begin skreeu?
Wat my laat dink aan ons kamptema.
Toe ek (geestelik) jonger was, het ek gedink ek is Dawid.
En ek moes menigmale en baie bang erken ek is nie.
Toe ek (geestelik) jonger was, het mense se vrese oor my toekoms ook my vrese geword.
Het ek gedink dit is veiliger om versigtig te wees.
Maar op ‘n stadium het ek seker onbewustelik besef wie ek is en waar ek staan in hierdie storie, want skielik kon ek besluit wie ek wíl wees.
En ek dink dít is die eerste baba-skreeutjies van ‘n gees wat wil groei.
Want Dawid was dapper.
En nou is ek meer gereeld ook.
Dawid stap vorentoe ten spyte van ander se vrese oor sy toekoms.
En nou stap ek meer gereeld vorentoe ten spyte van ander se voorspellings oor my eie.
Ek is nie Dawid nie.
Jesus is.
Ek is nie geroep om Dawid te wees nie.
Ek is geroep om sóós Dawid te wees.
Die Een wat die vyand uitdaag tot ‘n geveg omdat Hy weet dat die oorwinning reeds Syne is, spoor my aan om elke dag ‘n Dawid-dag te maak.
Ek hoef nie myself in Dawid mis te kyk en mismoedig te word nie.
Ek kan myself sien vorentoe tree uit die skare agter Hom aan wat reeds die voorste linie platgevee het.
Hy het die fight reeds gewen.
Nou kan ek net loop en dog tags bymekaar maak.
“I fear no evil,
for You are with me…”
Psalm 23:4 AMP
Jou inspirasie vir die week: Seed of faith
Comments