Wanneer daar van ons gevra word om groot besluite oor die toekoms te neem, lewensveranderende afdraaie te vat van díé pad wat ons tot hiertoe gebring het, dan is daar nie noodwendig ‘n standaard reaksie nie.
Vat nou maar vir Simon Petrus en vir Elisa.
Jesus bid vir Sy dissipels kort voor Sy kruisiging en stuur hulle daarmee na die sondaars van die wêreld toe met dieselfde opdrag en doel as waarmee Hy gestuur is.
‘n Paar dae na die kruisiging verskyn Hy weer aan hulle sodat hulle kan weet dat hulle geloof waar is en sodat hulle kan moed kry vir hulle taak.
Maar nóg ‘n paar dae later kry ons vir Petrus en die ander dissipels terug waar Jesus hulle die eerste keer gekry het – langs die viswaters. En Jesus bevestig nog drie keer Sy opdrag:
“Kyk dan asseblief na my lammers...”
“Pas dan asseblief my skape soos ’n herder op…”
“Sorg dan vir my skape…”
Johannes 21:15-17 Die Boodskap
Soms is dit so maklik om terug te val in ou gewoontes omdat die toekoms vir ons so onbekend en uitdagend lyk.
Soms is dit so maklik om in ou denkpatrone terug te val, omdat die moontlikheid dat ek my lewe kan verander deur Christus toe te laat om my gedagtes te vernuwe, so onmoontlik lyk.
Al wat dit egter vra is ‘n bereidheid om wat agter is, agter te los.
Vat nou maar vir Elisa.
Na Elia se meltdown vertel die Here God hom om ‘n paar goed te gaan doen, onder andere dat hy sy opvolger as God se profeet moes gaan salf.
Hy maak so en uiteindelik kry hy vir Elisa in die ploeglande, besig om ‘n stel osse te lei en ‘n goeie boer te wees.
Maar die Here wou nie hê Elisa moet ‘n goeie boer wees nie.
Die Here wou hê hy moes Sy profeet wees.
En Elisa offer daar en dan sy ploegdiere vir die Here op ‘n vuur gemaak met sy eie ploeg, ploegskaar en juk. Elisa sou nie weer kom ploeg nie.
“Then he left and followed Elijah, becoming his right-hand man.”
1 Kings 19:21 The Message
Die lesse wat hy geleer het terwyl hy ‘n boer was, sou hom die res van sy lewe toerus vir sy nuwe taak:
- om goed voorbereid te wees
- om toegewyd te wees aan sy taak
- om iemand te wees waarop mense kon vertrou
- om die waarde van vennote raak te sien en hoog te ag
- om aanspreeklikheid te aanvaar
- om te weet hoe om probleme op te los
- om geloof te hê.
Die lesse vat hy met hom saam, maar die bekslanerhek terug plaas toe, maak hy toe.
Van nou af, val hy net vorentoe.
Jou inspirasie vir die week: Wherever You lead
Comments