“The Christian knows that by sinning,
he is not going against the law,
he is going against Love.”
Daar is nou soveel reëls hier by ons in Europa, dat daar nou al reëls gemaak is oor hoe die reëls behoort te werk. En dit voel of daar elke dag ‘n paar nuwe reëls bykom.
Engeland se reëls is nou anders as Skotland se reëls en Skotland se reëls is nou anders as Wallis se reëls. Die arme mense wat in Engeland werk en in Wallis woon se koppietjies draai seker al behoorlik!
En dan is daar natuurlik die ‘reëls’ wat geld as jy ‘n Christen is.
Net vanoggend lees ek: “A Christian’s attention should always be divided” en as ek dit reg verstaan, maak dit vir my sin.
Want wanneer jy die “Christen-“ voorvoegsel by enige titel of posbenaming byvoeg, is die omvang van jou roeping onmiddellik in dubbeldoorgebied: Die aardse en die ewige.
En heel dikwels speel die twee met verskillende reëls.
Die geheim is om so gou as moontlik die lig van Jesus se Nuwe Gebod te vind tussen al die harwar van dit wat na jou toe gegooi word. Want om in die hedendaagse rustelose, gevaarlike en bowenal bedrieglike wêreld te probeer leef binne die 613 wette van die Joodse volk, of selfs die 10 Gebooie van Moses, is feitlik onmoontlik.
Jesus kom sê: “Ek maak dit vir jou maklik. Wees lief vir My – bo alles. Wees lief vir jou naaste.
En meet al jou besluite daaraan.”
As ons ons kinders alreeds van kleins af kan leer hoe om die reëls reg te lees in hierdie wêreld terwyl hulle nog onder ons dak is, en hulle pad te meet aan díé twee sypaadjiegrense wat Jesus ons gegee het, dan móét dit tog vir hulle makliker wees as hulle eers in die woeste wildernis daarbuite is.
“Toe het die Here my geantwoord: ‘Jeremia, jy sal nog moeiliker dinge deurmaak.
As jy moeg word wanneer jy resies hardloop teen mense, hoe sal jy ooit teen perde kan kompeteer?
As jy struikel en val in ’n land waar daar eintlik niks in jou pad is nie,
wat sal jy doen as jy in die digte bosse by die Jordaan beland?’ “
Jeremia 12:5 Die Boodskap
Dalk is dit juis wanneer dinge vir ons mooi loop en die besluite wat ons moet maak níé potensiaal lewensveranderend is nie, dat die Here ons wil leer onderskei… dat Hy ons hierdie maatstaf wil laat inoefen, vir die moeilike dae wat kom.
So met die klein goedjies saam.
As ons kan leer om hierdie liefdesgebod van Hom te vertrou elke keer as ons voete net so toondiepte wegsink in die modder, sal al daardie bietjie-bietjies toondieptevertroue ons help om bo-op die water te loop en groot lief te hê wanneer die Groot Toets kom.
“We can inherit no privilege,
no joy,
no promise,
no hope,
without inheriting the responsibilities
of a convenant.”
Laat die liefde van Christus my dring. Nie die reëls nie.
Jou temalied vir die week: The same love
Comments