top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

14 Nuwe lesse uit Paasfees



Het jy al agtergekom dat wanneer jy ‘n fliek vir die tweede of derde keer kyk, jy dalk klein details raaksien wat jy die eerste keer gemis het?

 

Hierdie jaar, met Paasfees, is daar ‘n paar nuwe goed wat ek kon raaksien:

 

·      Diegene wat vandag my grootste aanhangers is, kan môre maak of hulle my nie ken nie. Diegene wat vandag maak of hulle my nie ken nie, kan môre my mees getroue helpers word. Mag ek nooit mense te vroeg afskryf nie. Hy doen dit nie met my nie.

 

·      Toe Jesus se bid op was, was Hy nederig genoeg om te vra dat ander saam met Hom bid. Ek hoef nie weg te skram van my eie onvolmaaktheid nie.

 

·      Die heldeverering van mense is verganklik.  My enigste ware troos behoort te wees in die Een wat elke donker detail van my lewe en denke ken en stééds bereid was om Sy lewe vir my te gee.  Alles anders sal vergaan.

 

·      Toe die aanklagte teen Hom geslinger word, kon Hy elkeen van die sprekers se diepste en donkerste geheime voor die wêreld regop hou.  Maar Hy het nie.  Hy speel nooit vuil nie.

 

·      Ek kan my bes doen om jou kruis te help dra, maar daar is sekere toetse wat jy alleen sal moet skryf.  

 

·      Besoekers aan Jerusalem sou nie Jesus se backstory ken nie. Net omdat Hy saam met twee misdadigers gekruisig is, beteken nie Hy was ook een nie.  

 

·      As Jesus op die moeilikste dag van Sy lewe vir Sy vyande kon bid, dan kan ek ook.  Dit beteken nie noodwendig dat hulle houding jeens my sal verander nie.  Maar solank ek vir hulle bid, kan dit my siel nie skade aandoen nie.

 

·      Op die moeilikste dag van Sy lewe, deel Jesus die boodskap van hoop met die een langs Hom.  Sy eie seer maak Hom nie blind vir die hulpeloosheid van ander nie.

 

·      Jesus se eie stryd laat Hom ook nie vergeet van die wat aan Hom toevertrou is nie.  My familie is vir my gegee vir ‘n rede.

 

·      Wanneer dit helder oordag donker word om my, moet ek onthou dit hét al gebeur.  En dit het daardie dag ook nie vir Jesus onkant gevang nie.

 

·      Ek het elke dag die keuse of ek die hoop van die kruis vir myself gaan vat, en of ek tussen hemel en aarde gaan bly hang daarsonder.  Jesus het nie vir altyd bly hang nie.  Hy is ook nie vir altyd dood nie.  Lewe in oorvloed is die resultate van ‘n Hoop wat loskom van die kruis.

 

·      As ek kan uitskreeu, “ek gee oor!”, is dit nie ‘n verloordersklaag nie, maar die een klank wat die hemele laat juig.

 

·      Dit lyk dalk soos die dal van doodskaduwee, maar dit is dalk net die koeltekolletjie waar die Here tyd neem om my te versterk vir die volgende hoofstuk.  Ons sal seker nooit weet wat daardie drie dae in die hel gebeur het nie.  Die wonder van Sy opstanding oortref egter alle spekulasie en dít is waaraan ek vashou.  My volgende storie is soveel belangriker as wat in die graf van my ou lewe gebeur het.

 

·      Wanneer ons opgestane Jesus die boodskap is, maak dit nie saak wie die boodskapper is nie.  Dit gaan nie oor my nie.

 

 

“Don’t be upset, and don’t let all these doubting questions take over.

Look at My hands; look at My feet – it is really Me.”

Luke 24:37 The Message

 

 

 

Jou inspirasie vir die week: Because of Jesus


Comments


bottom of page