top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Kyk


'When you talk, you are only repeating what you already know.

But if you listen, you may learn something new.'


Onse Katie is agt jaar oud en sedert haar ousus Lara ons verlaat het, hierdie huis se enigste diere-asempie. Sy vul ons dae met haar energie, ons harte is seer is as sy seer het, ons gee om wat sy eet en drink en of sy die trappe kan klim of nie. Sy is ‘n pakkie liefde spesiaal vir ons afgelaai.


En omdat sy liefde is, dink ek die Here gebruik haar ook om ons ‘n paar lesse te leer.


Sy is ‘n ‘pet shop’ woef. Geen papiere of fênsie name nie. En soms as ons sien hoe sy skrik vir harde geluide, of die hoë frekwensie van kindergilletjies of selfs die gezoem van ‘n vlieg, dan wonder ons: wat het hierdie lyfie alles al deurgemaak?


Dan wil ons dit net beter maak, soms (gereeld) ten koste van onsself.


Haar gunsteling tydverdryf is oop-en-toe agter haar tennisbal aan skenaaif oor ‘n groen grasvlakte. Maar sy het nou onlangs haar skouer seergemaak en was op nul-bal-per-mond vir seker ‘n maand. Ons het nouwel hier by die huis rond gespeel, maar soos haar pa sê: hier kan sy nie lekker haar kleppe oopmaak nie!


Maar ons het elke dag gaan stap. Hier net so 20 treë van ons huis af is ‘n yslike groot graspark. Ons doen dan gewoonlik so ‘n rondte of wat en kies dan ‘n ander ompaadjie huistoe. Sy loop dan maar net en snuffel en aan die lang grassies kou sover ons loop – niks vreeslik energiek nie. Net agter die park is egter ‘n vreeslike besige straat. Nie so dat dit ons mense-ore juis irriteer nie, maar haar sensitiewe ingesteldheid en die lorries in daardie straat, laaik mekaar net mooi niks nie.


Sodra ons by die graspark kom, maar ek haar leiband los en sy kan dan maar rondsnuif en pieps net waar sy wil. Totdat daai lorrie verbykom! Dan gaan staan sy stokstil en kyk om, terug van waar sy vandaan kom. Sy weet sy mag nie alleen terug loop nie, maar sy is terselfdertyd ook te bang om te bly waar sy is. Maar nou het ek geleer: Sodra ek weer haar leibandjie aansit, is sy tevrede.


Asof hierdie verbintenis met my die vrees vir daardie grootpad se lawaai uitkanselleer en so stap ons dan in vrede verder, al snuffelend.

Ons erfie is maar klein, en as sy net twee keer haar ‘pakkies’ op die gras gelos het, dan is die speelplek vol. Sy het egter nou slim geword: sodra sy hoor een van ons is besig om skoon te maak buite, loop haal sy haar sokkerbal en kom sy uitgehardloop asof sy jaaaaare laas buite was.


Wanneer die Here met Job begin praat in hoofstuk 38, vertel Hy vir Job van die een natuurwonder na die ander en as ek tussen die lyne lees, dan wil Hy daardeur sê dat ons by hulle kan leer. Ook by onse Katie.


“Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie.

Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel…

…‘Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Kyk gerus ’n bietjie in die veld hoe mooi die lelies lyk wat daar groei. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so deftig te lyk nie. Tog was nie eens daardie skatryk koning Salomo ooit so mooi aangetrek soos een van hulle nie.’ “

Matt 6:26 Die Boodskap


Hy kyk en sien en alles is eerlik afgeëets teen die skyn van Sy heerlikheid.

Ek moet maar net kyk.



Jou temalied vir die week: Goodness of God

Comentarios


bottom of page