“My mom taught us never to look away from people’s pain.
The lesson was simple:
Don’t look away. Don’t look down.
Don’t pretend not to see the hurt.
Look people in the eye.
Even when their pain is overwhelming.
And when you are in pain, find the
people who can look you in the eye.
We need to know we are not alone,
especially when we are hurting.
This lesson is one of the greatest gifts of my life.”
Brene Brown
Die tou buite A&E (Accidents & Emergencies) was nie lank op hierdie vroeë mid-week aand nie. Weens veiligheidsredes moet COVID-pasiënte buite wag, maar daar is gerieflike stoele staangemaak, 2m uitmekaar uit. In die eerste spoegsels van lente is die laatmiddagluggie nie te koud nie, maar ek is bly ek het so terloops ‘n serpie saamgesleep.
Die vrou kom van binne af en sy lyk ontsteld. Ek sien eers die effense menskleur bult wat bokant haar sweetpakbroek se rek uitsteek en wonder of die baba okay is. Dan sien ek duidelik die bloederige tou wurgmerke om haar nek en ons gedurige Law & Order kykery kom skryf ‘n draaiboek in my kop.
Sy kom loop op en af voor die deure wat agter haar oop en toe skuif, op soek na iemand. Moedeloos gaan sak sy in ‘n platterige vensterbank links van die skuifdeure neer en dit lyk of sy huil. Ek wil my rol toiletpapier vir haar aanbied (‘n snesie help nie meer vir die hoeveelheid hoes en nies en proes nie), maar ek het COVID. En ek kyk weg.
Kort daarna vang my oog haar waar sy wegloop van die hospitaalingang af – terug straat toe. In een oomblik kry ek haar bitter jammer, en in die ander is ek verlig dat my verantwoordelikheid nou minder is.
Die luggie raak kouer en ek kruip al dieper onder my rugsak in. Die vrou is weer terug. Hierdie keer met ‘n vriend. Hulle praat hard en grof – maar nie met mekaar nie. Daar is tog ‘n deernis… Hy kyk nie weg nie.
In Mattheus 5 vertel Jesus van sout en lig wees. Sout en lig kry niks deur sout en lig te wees nie. Om sout en lig te wees kan hulle nie méér sout en lig maak nie.
Maar sout en lig gee.
Deur bloot sout en lig te wees.
Sonder fieterjasies.
Geen Truffelsout of Himalaja Pienk Sout of Maldon Soutvlokkies is nodig nie.
En kerslig is steeds lig.
In soveel as wat ek al by die grootste geeste in teologie geleer het uit hulle inspirerende stories van geloof en oorwinning, net soveel het ek al geleer by gewone mense wat bereid is om hulle stories van gewone uitdagings en mislukkings en weer-probeer te deel.
Dit gee my hoop. Want ons is eintlik almal maar net gewone mense.
“Keep open house; be generous with your lives.
By opening up to others, you’ll prompt people to open up to God,
this generous Father in heaven.”
Matt 5:16 The Message
Ek het weggekyk daardie laatmiddag.
Ek wil leer om nie weg te kyk nie.
Help my, Here.
Jou inspirasie vir die week: Without caution
Comments