top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Wanneer jou binneste buitentoe wys


Daar is darem min dinge wat voel soos vakansie, as om helder oordag, in die middel van die week, in ‘n fliek te gaan sit. Al is jy net twee van drie.


So oorreed ek ‘n nuwe Engelse vriendin, met wortels in Mauritius, om Inside Out 2 saam met my te gaan kyk. Dit het nie veel gevat nie. Sy is nouwel 85, maar haar lus vir die lewe en haar waardering vir alles wat mooi is, is springlewendig, I thank you very much!


In 2015 het ons gedeel met so baie nadat manlief medies ongeskik verklaar is, dat ons die eerste Inside Out heeltemal gemis het. Dit is egter nou nege jaar later en met my gesonde belangstelling in animasie, het hierdie tweede een vir my geklink na ‘n wenner.


En ek was reg.


In die eerste film kon die gehoor ‘n kykie kry in die daaglikse doen-en-late van vyf van die 11-jarige Riley se emosies: Blydskap, Vrees, Hartseer, Woede en Afkeur (Disgust).


Dit is nou twee jaar later, en oornag arriveer Afguns, Verleentheid, Verveling en Angstigheid in 13-jarige Riley se brein, alles komplimente van pubertiteit– ‘n nuwe waarskuwingslig op die beheerkontrole van haar brein.


Maar hierdie is nie sommer net ‘n storie uitgedink deur rondsittende draaiboekskrywers wat so veel as moontlik kinders na die lokette wou lok nie. Dr. Dacher Keltner, ‘n professor aan Berkeley Universiteit, en ander breindeskundiges is die taak opgelê om seker te maak dat die storie binne-in Riley se brein, werklike, feitelike neurowetenskap weerspieël.


Mamma & Pappa, as julle ooit ‘n verskoning nodig gehad het om helder oordag, in die middel van die week, in ‘n fliek te gaan sit, kan julle nou in alle eerlikheid vir mense noem dat julle besig is met sielkundige navorsing…!


Daar was ‘n paar oomblikke in hierdie film wat my seker nog vir lank sal bybly…


Daar is ‘n “plantjie” in Riley se brein wat lewendig en gesond pols met al die goedjies wat Riley oor haarself glo. Wel, al die mooi goeters – tot op hierdie punt.


Want tot op hierdie punt, het Blydskap al die negatiewe herinneringe aan die foute wat sy gemaak het, die verleenthede waarin sy haarself bevind het, elke dag in haar arms bymekaar gemaak en dit diep en baie ver met so ‘n supersterkte skietmasjien heeeeeeeeeel agter in haar brein gebêre, sodat al wat oorbly wanneer jy aan hierdie “plantjie” se harpsnare trek, “I am a good person” is.


Wanneer Angstigheid egter op die toneel verskyn, neem dit beheer, breek hierdie verstaan van Riley se self af, en vervang dit met ‘n nuwe kontrêpsie wat groei uit gedagtes aan alles wat kan skeef loop. (Klink dit bekend?)


Uiteindelik kry Blydskap dit egter reg om weer Riley se oorspronklike siening oor haarself terug te kry, maar verstaan sy nou dat al die verskillende ondervindings en ervarings Riley se verstaan van haarself vorm. Hoe goed en sleg dit ookal is. Want dit leer haar en dit vorm haar en help haar om te ontwikkel in al die fasette van haar menswees.


“I need to fit in, but I want to be myself”


Dan was daar ander momente waar Blydskap en Hartseer saam in ‘n hysbak klim, en Blydskap vir Hartseer sê: “Where I go, you go.” Maar ek dink nnie hierdie is nie bedoel om ‘n hartseer oomblik te wees nie. Want dit is Blydskap wat vir Hartseer aan die hand vat en deurentyd die planne maak en die einas beter maak en die Groot Sussie bly.


Die stukkie waar Riley ‘n angsaanval kry tydens haar geel-kaart langs die yshokkiebaan, is ontstellend en werklik en insiggewend en gerusstellend, alles in een. Al die emosies moet toekyk hoedat Angstigheid chaos veroorsaak. Maar uiteindelik is dit Blydskap wat weer die ewewig herstel en Riley laat asemhaal.


Ek sou nog kon aangaan, maar gaan kyk gerus self.

En gee Blydskap ‘n kans wanneer jou binneste weer buitentoe wys.



“…the joy of the Lord is your strength!”

Nehemiah 8:10 AMP



Jou inspirasie vir die week: Never alone


Commentaires


bottom of page