Jare gelede het ek ook op ‘n splinternuwe kunswa geklim met skeppinge wat die greinkorrels van ‘n foto sou uitlig. Met derduisende spikkels sou jy dan ‘n beeld laat realiseer op deurslagpapier waar daar voorheen net een gryserige plaat niks was.
Dit het ure geneem, maar die breindood repetisie en die uiteindelike onstaan van ‘n herkenbare vorm het elkeen hulle eie aanloklikheid gehad.
Ons was nog nie lank getroud nie toe ek besluit om een van ons troufoto’s so vas te vang. Vergroot en vergroot en vergroot nog ‘n keer, totdat die prent niks meer is as derduisende stippels nie… net so duskant ‘n 6-sitplek eettafel se grote.
So ‘n paar aande omgewerk daaraan en toe mooi toegemaak om die finale werkies later te doen.
Later word toe BAIE later en toe ek een aand mooi reg is daarvoor, haal ek dit uit om klaar te maak.
Net om te sien dat dit op ‘n manier nat geword het. Waar derduisende kolletjies was, was daar nou plek-plek persblou inksmere wat my oë koggelend bly wegtrek van die kolle perfekte stippels af.
Dit was dit. Hubby sê nog ek moet weer, maar hy het seker nie mooi helder gedink op daardie oomblik nie.
Dit is die situasie waaraan ek dink toe ek hierdie week lees van Jeremia in die tronk in Jeremia 36 en hoe hy alles moes neerskryf wat die Here oor die jare al met hom gedeel het. Dis moeilik ‘n tydsduur te vind hiervoor, maar die Here het soveel bemoeienis gemaak met die Volk, ek dink dit moes maande gevat het.
Net sodat koning Jojakim dit kon verbrand. Bladsy vir bladsy.
Al sy handewerk. Poef. Weg.
Weet julle wat sê die Here? Skryf dit weer.
My moed sak sommer vir Jeremia se part…. maar daarvan lees mens niks nie.
Inteendeel – ‘n mens lees dat die Here selfs nog méér in Jeremia se mond kom lê het met die tweede probeerslag.
Ek wil ook soos Jeremia wees.
Ek weet ek gee soms te maklik moed op, ek weet.
En my ongeduldige aard help nie juis nie. Die wortel van daai kwaad moet gedurig afgesteek word.
Maar so lees ek hierdie week ‘n stuk wat geen verband hou nie en wat vir my tot in my 42ste jaar een ding beteken het, en skielik beteken dit vir my iets anders:
“Enoch walked with God
until he was found no more.”
Gen 5:24
Die letterlike betekenis, volgens geskiedskrywers en teksontleders, is dat Henog nooit dood is en begrawe is nie, maar lewendig in die hemel opgeneem is. Dink net.
Maar hierdie week kom karring ‘n nuwe moontlike betekenis aan my sinne en ek begin aan daardie hoekie torring todat ek die hele prentjie mooi kan sien…
Henog het gewandel met God totdat Henog nie meer was nie en net God oorgebly het.
Jeremia het gewandel met God totdat net God oorgebly het en hy nog ‘n keer, nog ‘n miljuisend keer, dieselfde boodskap kon oorskryf, letter vir letter.
Ek wil wandel met God totdat net God oorbly
en ek niks meer
in eie krag hoef te doen
of te wees nie.
Totdat Christus al is wat oorbly.
Jou temalied vir die week: The more I seek You
Comments