Laurika Rauch sing al oor die 20 jaar van die mense op die bus en hoe hulle die lewe sien.
Die mense op die bus beskou
Die liefde soos die oggenddou
My hart is lankal reeds gebreek
Ek het dit net-net weggesteek
Die mense op die bus wil hoor
Waar het jy eers jou hart verloor?
Die mense op die bus sê nee
Daar's baie visse in die see
Ek is nie op Laurika se bus nie, maar op die rooi 211 deur Chelsea oppad Victoria Stasie toe. En soos die gesiggies opklim en afklim en verander wonder ek hoe hulle elkeen se dag daar uitsien.
Sien, die mense op die bus het altyd ‘n opinie oor die ander mense op die bus, vlugvoetig gemaak in die 20 sekondes wat hulle by jou verbyskuur, of terwyl jy hulle ongemerk probeer dophou vir die volgende 20 stoppe.
Dophou en luister. Want tensy jy in jou eie stereo-oorfoonwêreldjie is, raak die mense op die bus willig of onwillig deel van daardie paar stoppe in die lewe van die ander mense op die bus.
Die een tannie bly al 60 jaar by dieselfde adres, maar deesdae ken sy geeneen van haar bure meer nie.
Haar praatmaat gaan loer so af-en-toe in op die boonste vloer by ‘n ander tannie van 94 wat al soveel jaar alleen bly.
Niemand anders doen dit nie, so hoor ek.
Ons is klein-klein geleer afluister is verkeerd. Maar is afluister altyd ‘n slegte ding?
Wat as afluister jou goeie skietgoed gee vir wanneer ‘n vriendin se selftwyfel dreig om haar te verwurg en jy so die greep op haar siel kan laat verslap?
Wat as afluister jou in staat stel om iemand se voete te was, sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen?
Jesus was nog besig om met die vrou te praat toe ’n paar mans van Jaïrus
(die leier van die sinagoge) se huis af daar aankom. Hulle het slegte nuus gehad:
“Jou dogter is dood. Los vir Jesus. Moet Hom nie verder pla nie.”
Jesus het dit gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.”
Markus 5:36 Die Boodskap
Jesus het dit gehoor.
Hierdie manne het nie met Jesus gepraat nie, maar Hy was in hulle nabye omgewing en het gehoor. En Sy eerste reaksie was om dit wat Hy gehoor het, in ‘n goeie gawe om te sit.
Hoeveel van dit wat ek hoor maak daardie eerste reaksie by my wakker?
Hoeveel van dit wat ek hoor laat my kreatiwiteit in overdrive gaan om seker te maak iemand anders word geseën bloot omdat ek daar was om te hoor?
Random Acts of Kindness (RAOF) is ‘n beweging wat al baie jare aan die gang is. Dit is nou waar mense vir mekaar goed is, sommer net.
Vandag wonder ek of RAOF’e dan nie juis aangevuur moet word deur ‘n nuwe beweging van Alewige (Heilige) Afluister nie?
A(H)A!
Dit sal nou wees waar jy met aandag luister na ander se publieke gesprekke – by die tafel langsaan in die restaurant, by die skool se hek, in die ry by die pannekoektafel, in die dokter se spreekkamer, tussen die betaalpunte by SPAR.
Nie om daarvan skinderkos te maak nie.
Om vir die praters in te tree in gebed, of fisies uit te help waar dit knap gaan, of hulle te ondersteun sonder dat hulle eers weet waar dit vandaan kom.
Want sou jy nie ook graag wou hê iemand met die beste intensies moet jou eie moeilike gesprekke afluister nie?
Jou inspirasie vir die week: God really loves us
ความคิดเห็น