top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Woordtoebies



Broodjies, toebies, sarmies… Enige opregte Suid-Afrikaner behoort hiermee goed bekend te wees.  Of jou gunsteling variëteit nou so opreg eenvoudig is soos Marmite op bruin brood, so patrioties soos tamatie en kaas gerooster op die vuur, of so gesofisitikeerd soos salm en bokkaas op rogbrood is, een ding het alle broodjies in gemeen:  Daar moet ‘n bo- en onderlaag wees. 

 

Anders is dit nie ‘n broodjie nie.

Oop broodjies is ‘n héél ander afdeling.

 

Jare gelede was een van my grootste bederfies as mediese rep in Bloem, ‘n vinnige inhardloop by Caramello’s in Mimosa Mall vir hulle hoender en mayonnaise tussen twee snye van so ‘n  donker  gesondheidsbroodjie.  Wat hierdie ene uniek gemaak het, was die mildelike toevoeging van peppadews en agurkies tot die standaard mengsel.  Dit, en lekker kraakvars blaarslaai vir ‘n onderlaken.

 

Een, minder aangename, deel van my werk is om dissiplinêre gesprekke te hê met kollegas. Daar is ‘n rede hoekom HR nog nooit vir my aanloklik gelyk het nie…

 

Maar, dank die voorsienigheid van die Here, onthou ek hierdie oggend van die broodjiebeginsel: Om elke sodanige gesprek te begin met positiewe terugvoering, dan die moontlike area van verbetering uit te wys, en dit dan af te sluit met ‘n positiewe plan oor hoe om dit prakties aan te spreek.

 

Neef Paulus was nogal ‘n groot voorstander van hierdie tegniek, vind ek toe nou uit.

 

In 1 Korinthiërs 1:4 – 9 begin Paulus deur vir die Here dankie te sê vir hulle geloof en dat Hy Homself so sigbaar maak in hulle daaglikse doen en late.  Vanaf vers 10, skroom hy egter nie om sy bekommernisse oor hulle binnegevegte aan te spreek nie, maar uiteindelik sluit hy af met aanmoedigings en vermanings vir eenheid en liefde in 1 Kor 16.

 

In Galasiërs sien ons baie dieselfde patroon, gaan soek dit gerus self op.

 

En dan in Filippense begin hy weer deur dankbaar en vol vreugde te gesels oor die Filippense se toewyding aan die Goeie Nuus wat hulle gehoor het.  Eers dan spreek hy sommige bekommernisse en kwessies aan, en eindig uiteindelik met ‘n lys positiewe instruksies en seëninge, Filippense 4:4-9.

 

Dis Sondagaand in Februarie 2024.

En die praktiese hulp uit die Woord van die Here is vir my nog net so ‘n hulp as wat dit 2,000 jaar terug vir die eerste Christene was.

 

Die wêreld is honger,

maar hulle is bang om geskop te word.

 

Mag ek hierdie week nie die voedingskrag van die eenvoudige woordtoebie onderskat nie.

 

Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe.

Spreuke 12:18 Die Boodskap

 

 

 

Jou inspirasie vir die week:  How far


bottom of page