top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Al is jou deurkosyn ook leeg


Die Israeliete moes verward gewees het. Die wat nie so getrou die samekomste van die gelowiges bygewoon het nie dalk meer as ander. Die Here het nege keer sommer oornag die Egiptenare rondom hulle se hele bestaanswyse kom aanval, hulle geteister met die mees angswekkende onmoontlikhede.


Maar vannag… vannag sou daar ‘n skrik oor die land kom wat erger sou wees as al die ander gekombineer.


“Moses het die leiers van Israel bymekaar laat kom en vir hulle gesê:

“Gaan kry nou vir elke gesin ’n lam sodat julle dit vir die paasfees kan slag.

Julle moet die bloed in ’n bak opvang. Doop ’n takkie van ’n hisopboom in die bloed en verf daarvan aan die bokant en die sykante van julle huise se deurkosyne.

Niemand mag uit sy huis uit weggaan voor die volgende oggend nie.

Wanneer die Here die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan julle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan.

Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie.”

Eksodus 12:21 Die Boodskap


Vanoggend het Italië amptelik verklaar dat hierdie die grootste krisis in hulle land se geskiedenis is sedert die Tweede Wêreldoorlog, en hulle pleit by lande wat nou eers die gogga aan hulle eie grense voel, om gehoor te gee: Bly by die huis.


Vryheid is seker een van die kosbaarste ‘regte’ wat daar is. Vra maar enige kind wat met ernstige skoolsiek vir ‘n hele dag in die bed moet bly. Of die parapleeg wat vasgekluister is in ‘n rystoel en sy of haar vryheid slegs kan kry as iemand anders hulle s’n opoffer.


Maar vryheid is ook dit wat ons kry wanneer Christus ons vry kom maak. Waarlik vry.

Nie die oënskynlike vryheid waarvoor ons voorgeslagte gebloei het nie.


Hierdie vryheid word ons s’n wanneer Hy ons teen Sy wonde vasdruk en ons Syne noem.

Dis nogal ‘n interessante ontdekking om te maak dat die wat waarlik vry is, sélf die grensdrade kan stywer trek, self die loopgraafgrense kan grawe, kan sê: tot hier toe sal ek gaan, en nie verder nie.

Want daar is ‘n ander Outoriteit oor my lewe.


Een wat liefde vir God en liefde vir die naaste so soomloos in my eie sin van vryheid ingeweef het, dat dit nie vir my ‘n grens word tussen vry wees en gevangene wees nie.

My liefde vir God laat vloei my respek vir outoriteit en my respek vir outoriteit loop oor in liefde en genade vir ander… wat weer hulle liefde vir God aanwakker.


Wanneer die engel van die dood in hierdie tyd sy rondtes doen, hoef hy nie die bloed van ‘n lam aan deurkosyne raak te sien nie.


Die bloed wat jou bedek wanneer jy ‘n volgeling van Christus word, is die teken dat Lewe in hierdie plek heers, dat Dood geen invloed hier het nie, al steel dit ook die mens se laaste asem.


“If God does not deliver us from our enemies,

He will certainly deliver us in our adversity;

He will give us strength to endure,

grace to submit,

courage to bear and brave the worst,

sanctity of spirit as the result;

He will turn the well of our affliction into

a fountain of spiritual blessing!”


“It is for us to rest in the Lord,

who has not promised to order and overrule all things for our

glory or happiness,

but who will surely order and overrule them for the

advancement of His kingdom and the honor of His name.”



Jou temalied vir die week: Because He lives


Comments


bottom of page