top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Alles is anders

Updated: Feb 4, 2023




Déjà vu (/ˌdeɪʒɑː ˈv(j)uː/ ( listen) DAY-zhah-VOO, -⁠VEW, French: [deʒa vy] ( listen); "already seen") is a French loanword expressing the feeling that one has lived through the present situation before.


Vir kinders van die Here is dit nie net ‘n gevoel nie, maar ‘n werklikheid. Dieselfde situasies het mos ‘n manier om hulself te herhaal, dalk jare uitmekaar.


Vir kinders van die Here lê die troos daarin dat elke bietjie snoei en die groei wat volg, besig is om ‘n nuwe mens op te rig. Al sou die probleem/die uitdaging/die doring in die vlees dieselfde wees, is die een in die spieël nie meer nie.


Ons leer ken vir Simon Petrus as die moedelose visserman wat niks beter het om met sy tyd te doen as om die profeet sy boot as ‘n boer-maak-‘n-plan megafoon te leen nie.

Maar hierdie profeet seën hulle met ‘n rekordvangs en openbaar Homself aan Petrus as die Seun van God wat die sonde van die wêreld op Hom sou neem.


Drie jaar later + tien dae na Jesus se kruisiging, kry ons weer vir Petrus op die boot.

Weereens moedeloos, maar nou met die ekstra gewig van sy eie verraad wat hom agtervolg soos ‘n onlosmaaklike skaduwee.

En weereens seën hierdie profeet hulle met ‘n rekordvangs en openbaar Homself aan Petrus as die opgestane Seun van God wat die sonde van die wêreld op Hom geneem het.

Ook Petrus s’n.


Toe Petrus die eerste keer besluit het om vir Jesus te volg, daar by die boot, was dit dalk grootliks uit nuuskierigheid met ‘n tikkie geloof.

Toe Petrus hierdie keer, op daardie selfde boot, in daardie selfde omstandighede, vir Jesus herken, is dit sy geloof wat hom soos ‘n wafferse Chad le Clos laat induik terwyl die ander dissipels agterna roei.

Petrus was nie meer dieselfde nie.


“Kom, eet ’n stukkie ontbyt,” nooi Jesus hulle uit. Nie een van hulle het die moed gehad om te vra:

“Wie is U?” nie. Dit was ook nie nodig om te vra nie.

Hulle het geweet dit is die Here.

Johannes 21:12 Die Boodskap


Hulle het nou geweet.


Weer teleurstellende nuus van die dokter.

Weer ‘n uitdagende situasie by die werk.

Nog ‘n senutergende familienaweek.

Niks verander nie.


Maar jy verander.

Dieselfde toetse, soms net in verskillende gedaantes, kom meet hoeveel.


Weer teleurstellende nuus van die dokter.

Weer ‘n uitdagende situasie by die werk.

Nog ‘n senutergende familienaweek.

Alles is anders.




Jou inspirasie vir die week: Canvas and clay



Bình luận


bottom of page