“It is well to dwell long and to dwell deliberately
upon God’s dealings with us.”
Gister het my karretjie met ‘n gehoeseproes en snotneus sy nuwe jaar om die son begin. My eerste verjaardag in die middel van winter was maar ‘n bedeesde affêre. Maar dit gee mens ook weer meer tyd vir refleksie, nê?
En as ek net dalk in die gat sou trap van my lefty skryfhand dwarsoor die fonteinpen skriffels van ’77 tot hier sou wou trek en alles net een groot blur word, kom Psalm 136 vanoggend en wys my hoe dit eintlik moet wees:
Prys die Here, want Hy is goed!
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy bewaar my kinderhart van drankgevaar.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy sien my raak by Retiefkampterrein en steek ‘n vlam in my aan.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy beskerm my van my eie swak keuses, al moes ek die gevolge dra.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy bring my eerste liefde weer tot by my deur.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy wys vir Stelltjie op haar laaste asem dat Hy haar Pappa is.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy skoffel die grond mooi vir waar Genade se woorde moet val.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy bring ‘n einde aan pa Jan se eensaamheid.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy maak ons konneksiepunte mooi skoon in skadu van die Maluti’s.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy neem my man se oë en gee vir hom ‘n dapper hart, en een van omgee.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy skaaf ons en skoei ons in die Oos-Kaapse soutlug van suiwering.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy bêre ons reisplan en vou Syne oop tot die tafel vol lê, oorhang.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy maak ons krampende hande los van ons huis en ons goed binne twee sonsopkomste,
en los ons met ‘n groter seën as waarvoor ons gevra het.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy bring ons annerland toe en versorg ons menswees, ons eet en drink.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy dra ons ver-familie en vriende wanneer ons plekkies by hulle spookbeelde word.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy plant ons voete stewig in die nuwe môre, Hy gee ons nuwe hoop om aan vas te hou.
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Loof die God van die hemel!
Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Met apologie aan die Psalmdigter
Jou temalied vir die week: I will wait
Comments