Morbiede gedagte, ek weet… die hele Coronavirus ding. Maar hier rondom ons in die Noordelike halfrond raak dit by die dag ‘n groter realiteit. Ons eie maskertjies is bestel en my man laat my nie vir ‘n oomblik vergeet om my hande te was nie. Engeland se heel eerste sterfte het hierdie week skaars 30 myl van ons af gebeur.
So, wat as die Coronavirus sonde was, wonder ek toe? Verstaan my mooi: Ek sê nie die Coronavirus is sonde nie. Hierdie is ‘n allegoriese vergelyking – geensins perfek nie, en kan moontlik op ‘n honderd verskillende maniere uitmekaargetrek word.
Maar dalk kan dit in vandag se gees ‘n gedurige herinnering wees aan ons eie delikate bestaan.
Ons word oor-en-oor-en-oor gewaarsku om met jou hande (wat moontlik besmet kan wees) weg te bly van jou mond en jou oë.
Is dit nie ook maar waar sonde broei nie? Casting Crowns sing van ‘n Slow Fade:
“Be careful little eyes what you see It's the second glance that ties your hands
Be careful little lips what you say For empty words and promises lead broken hearts astray”
Wanneer jy hoor van die besmettingsyfer wat klim en die dodetal wat eksponensieel vermenigvuldig, dan gee ‘n mens se hart eintlik ‘n ruk. Hierdie ding het nie genade nie!
Maar ruk my hart nog wanneer ek mense oop oë die pad hel toe sien huppel? Onbewus of ongepla deur die erns en die einde daarvan?
Die storie word vertel van ‘n jong Chinese dokter wat sy eie troue uitgestel het om mense wat deur die virus besmet is te help, ondenkbare ure en dae lank, totdat hy self besmet is en kort daarna dood is.
Hoe naby is ek bereid om aan die sondevuur te kom om die wat kaalvoet daar rondom dans weg te ruk van die skroeiende gevaar?
Daar is nog nie ‘n inenting om ons teen die virus te beskerm nie, maar mense met ‘n goed ondersteunde, gesonde immuunstelsel lyk tog in ‘n beter posisie te wees om die virus te deurstaan en heel anderkant uit te kom.
Dis my verantwoordelikheid om my geestelike immuunstelsel gesond te hou, gevoed te hou, vir wanneer die aanval kom. Want kom, sal dit kom.
Daar is niemand wat bestand is teen die virus nie, behalwe die wat ‘n aanval oorleef het.
Die beste advokaat teen die sonde, is die man of vrou wat self die diepte van sonde se verlatenheid beleef het, voordat hulle genade bewys is en gered is.
In Spreuke 28:14 staan daar:
“The Lord blesses everyone who is afraid to do evil.”
Hoor jy die sentiment? Verstaan jy die implikasie? Vir ons wat genade ontvang het, is daar niks wat ons banger maak as dat ons in sonde se strik gevang sal word nie.
Een ding wat vir ons anders is as die Coronavirus, is dat daar vir ons ‘n Redder is. Vir elkeen wat in sonde gebore is, is daar ‘n keuse om gesond te word, heel te word.
Sy naam is Jesus. En Sy bloed gee lewe!
Jou temalied vir die week: The Blessing
Comentarios