top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

As jy nie hou van jouself nie


Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek dit gehoor het, of wie dit in my oor laat land het nie, maar dit kom hierdie week sommer so van nêrens af by my ingewals.


Vandag wil ek bietjie saampraat: Een skaduwee maak ook nie ‘n sonsverduistering nie.


Dit het baie lank geneem vir die Gees om so gevestig te raak in my dat Sy stem harder as díé van die wêreld sou wees wanneer ek dit die nodigste sou hê om te hoor: Jy kan weer oor begin.


As jy nie hou van die kleur van jou naels nie, verander dit.

As jy nie hou van jouself nie, verander dit.


‘n Paar jaar terug sien ek die nota: “Word before world”.

Dit oortuig my só dat ek van toe af vroegoggend my oë oopmaak en dadelik eers Woord toe voor ek sosiale media betree vir die dag.

Maar die gewoonte vervaag en op ‘n dag besef ek die wêreld vat weer voor.

Dit kan so bly, of ek kan môre weer oor begin.

Sodat die goeie in my kan groei.


Ek doen die 28-dae dieet en op Dag 12 kan ek nie meer nie, en vergryp my aan die Verbode.

Hierdie ongesonde gewoonte kan bly, of ek kan môre Dag 12 weer oor begin.

Sodat die goeie in my kan groei.


Om net bietjie vrede terug te bring in my lewe, besluit ek Facebook is uit op Sondae.

Dit bring my siel tot rus. Maar dit hou nie.

Dit kan so bly, of ek kan volgende Sondag weer oor begin.

Sodat die goeie in my kan groei.


Ek glo vir reën waar dit die nodigste is, en die reën kom.

Maar dit bly toe weer vir baie lank weg en my glo raak min.

Dit kan so bly, of ek kan môre weer oor begin glo.

Sodat die goeie in my kan groei.


(Dit laat dink my aan die C.S. Lewis sê-ding: “Relying on God has to begin all over again every day as if nothing had yet been done.”)


Gister is ek by ‘n perde-ding en my skertsende Engels steek sleg af by my Afrikaanse kwinkslae. So, voor ek my kom kry onderstreep ek vir ‘n deelnemer presies hoe groot die taak was waarvoor sy alreeds so opgesien het.


Boot-in-die-bek oomblik.


Dit pla my so, maar ek dink ek moet dit eerder net daar los, voor ek dit erger maak.

Gelukkig kry die Gees in my die oorhand en ná haar toets gaan probeer ek regmaak. En ontdek ek die mees inspirerende storie van chroniese siekte en kanker wat hierdie perde-entoesias net nie kan onderkry nie.

Sien, ek kon weer oor begin.

En die goeie in my groei.


Die vyand wil ons laat glo dat as ons eers een keer mis geslaan het, dan het ons die wedstryd verloor. Wat sal dit help om weer af te slaan?


Ook met sonde.


Maar luister:


“No one who is born of God [deliberately, knowingly, and habitually] practices sin,

because [a] God’s seed [His principle of life, the essence of His righteous character] remains [permanently] in him [who is born again—who is reborn from above—spiritually transformed, renewed, and set apart for His purpose]; and he [who is born again]

cannot habitually [live a life characterized by] sin,

because he is born of God and longs to please Him.”

1 John 3:9 Amplified Bible


Eintlik staan daar maar net dat ons die kans het om elke dag weer oor te begin. Want vir diegene wat die Here aangeneem het, is dit onmoontlik om ‘n lewe te leef wat al hoe verder van die Vader af lei.


Omdat Hy in ons leef, pla goedjies ons.

Dit hou ons uit die slaap.

Dit laat ons Sy teenwoordigheid mis.


Dit maak dat ons môre weer van vooraf wíl begin.

Wíl verander.

Omdat die Goeie in ons groei.



Jou inspirasie vir die week: There is a hope


Kommentare


bottom of page