Ons almal het ‘n Before & After storie oor jou huis of jou gemorslaai (jy hét een, jy weet jy het een) of jou studeertafel of jou garage. Of dalk oor jou tuin – as jy so gelukkig was om weer bietjie wolkewater te kry!
Maar Before & Afters het klomp gesigte. My Lizel-vriendin en haar ouers se lewens sal altyd gemerk wees deur hierdie dag in tyd toe haar boetie sy lewe verloor het. Daardie helikopter-ongeluk 8 jaar gelede het ‘n baie duidelike Before & After skeidingsmoment geword in hulle lewens.
Die Before & After wat egter mý gedagtes loop en agtervolg hierdie week, is my eie menswees s’n.
Hierdie poster op Facebook het die sneller getrek:
“I wonder how many strangers hate me
because of the way someone else
described me to them.”
Twee dinge kom spring soos opslaan-paddastoele oornag in my gedagtes op:
Ék weet ek is nie dieselfde mens nie. Ek weet daar is ‘n Before & After in my lewe. Maar sou die spelers in my Before-produksie die verskil kon raaksien as hulle my vandag weer moes raakloop? Het ek ver genoeg van my ou lewe af weggedraai dat niemand my meer sou kon misgis met die meisie met die gedeelde onderdanigheid aan haar ou konings nie? Nie dat mense se opinies so belangrik is nie, maar in die mate dat my nuwe lewe reflekteer in die uiterlike uitleef daarvan.
En dan ook: Hoeveel keer belemmer ék iemand om sy/haar eie opinie oor iemand anders te vorm? Hoeveel keer steek ek die vuurtjie van ‘dislike’ in iemand anders aan deur die woorde wat ek spreek oor my eie ervaring met, of menings oor ‘n persoon wat vir hulle nog totaal onbekend is?
Gisteraand woon ek vir die eerste keer in ‘n lang ruk die Jeugdiens by ons kerk by. Ek kan dit nie regtig verduidelik nie, maar ek het ‘gedring’ gevoel. As jy dit al ervaar het, sal jy weet.
Ds. Nardus praat daar toe weer van Johannes 15 se wingerdstok en lote. En ek wonder: Sou ‘n loot wat afgesny is omdat dit nie vrug gedra het nie, weer ingeënt kon word?
“Daar is tog goeie nuus vir die dooie lote, vir Israeliete wat nie in Christus glo nie.
As hulle tot bekering kom, sal hulle dadelik weer in die olyfboom ingeënt word.
God het die krag om dit te doen. Hy alleen kan dooie lote weer laat leef.
Immers, as God vir jou wat ’n wildeolyftak is, so suksesvol op sy olyfboom kon inent,
is dit mos geen probleem vir Hom om daardie olyftakke wat afgebreek is
ook weer op die olyfboom in te ent nie.”
Romeine 11:24 Die Boodskap
As ek dit reg verstaan, het ons liewe Vader baie meer simpatie met diegene wat glad nie in Christus glo nie, maar dan tot bekering kom. Dit is hulle wat weer ingeënt sal word.
Johannes 15:5 vertel ‘n ander storie…
“Stel julle dit goed voor: Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies.
Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie.
Net so beteken julle ook niks sonder My nie.
Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My.
Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugbare lewe kan lei.
Iemand wat op sy eie, sonder My, wil leef, sal uitvind dat hy dit nie kan doen nie.
Hy sal soos ’n los, afgesnyde takkie in die vuur gegooi word.
Saam met die ander takkies soos hy sal hulle daar tot as verbrand.
As ek meen dat ek in my After-lewe is, maar daar is geen uiterlike teken van goeie vrugte nie, dan is ek eintlik maar waardeloos vir die koninkryk van God op aarde. En dan sal my bestaan op aarde uitdraai op ‘n warm vuur en koue as. Ek sal nie die kans gegun word om weer op die Lewende Loot ingeënt te word nie.
In my eenvoudige poging om te verstaan klink dit vir my of dit beter is om eerder openlik onverskillig teenoor God te staan, eerder as om wyd en syd te verkondig dat jy okay is, dat jy bloed van Sy bloed is, maar jou lewe sing ‘n ander deuntjie. So laat jy jouself nie die geleentheid om deur God se genade gegryp te word en oorrompel te word en verander te word nie, want jy is dan okay.
“There is none so blind as he who would not see.”
Wat ek sê en wat ek doen wanneer ek in my After-lewe is, is belangrik.
Sy bloed was nie goedkoop nie.
En daarom is dit wat gebeur het in my Before-lewe, nou deur Christus se oë heeltemal weglaatbaar onbelangrik.
Dalk het jy ook nodig om dit te hoor vandag: Elke Before het ‘n After.
Wanneer jy deur die slegste tyd van jou lewe gaan, kan jy weet en glo: Hierdie is net die Before.
Die After is oppad.
Jou temalied vir die week: What Mercy did for me
Comentários