top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Belowe

Updated: Jan 29, 2023




Nog ‘n jaar, nog ‘n verjaardag. Dankbaar vir nog tyd. Terselfdertyd versigtig vir die uitdagings van elke nuwe dag.


En as ons nou maar eerlik wil wees: Ons grootste uitdagings is soms naaste aan die huis.

Die werk kan frustrerend wees, jou baas ‘n buffel, die vrou wat voor jou indruk by Checkers ongeskik en onjammer, en die loadshedding in spitsverkeer ‘n nagmerrie, maar as die toue stywer trek en jy voel benoud wanneer bloed van jou bloed ter sprake kom, dan raak al die ander penaries klein in vergelyking.


Vanoggend deel ‘n paar mense by die kerk hulle vreugdes en bekommernisse oor hulle eie bloed, en net daarna lees ons in 1 Samuel 1 van Elkana en Hanna en húlle familiekrisis.


Die Here daag op en verlig die baie spesifieke pyn van kinderloosheid by hierdie twee mense, maar dit bring daarmee saam ‘n verantwoordelikheid wat feitlik ondenkbaar is: Hanna sou vir klein Samuel tempel toe vat sodra hy maar net drie jaar oud was.

Sy sou hom nie weer huistoe vat nie.

Die priesters daar sou hom verder voor en vir die Here grootmaak.


Ek kan my dit nie eers indink nie.


Die naaste wat ek daaraan kan kom, en verskoon my asseblief liewe ouers van 2-been kinders, is dat daar op ‘n stadium in Lesotho sulke erge donderweer was dat onse 4-been-Katie so bang was dat sy deur die studeerkamer se blokkiesvensters probeer spring het.


Sy het haarself sleg gesny en ons was so bekommerd oor haar, dat ons dit actually oorweeg het om haar eerder vir ‘n boer êrens op ‘n plaas te gee. Sy sou ook net mooi 3 jaar oud wees.


Ons kon nie.

Maar Hanna het.


Vanoggend toe ons by hierdie gedeelte kom, sien ek ‘n bewerige, dubbele potloodlyn onder hierdie een vers in my Contemporary English Version bybel:


“I’m sure the Lord will help you do what you have promised.”

1 Samuel 1:23 CEV


Die beloftes wat ons maak is soms uit desperaatheid en wanneer dit by ons hartsmense kom, soms uit ‘n behoefte aan die ewig ontwykende wederkerige liefde.


Hanna se belofte was aan die Here, en Elkana het geweet hoe verskriklik moeilik dit moes wees.

Beloftes aan die Here is vir altyd.


Maar hoe mooi van hom om haar te herinner dat selfs op die harde pad van selfverloëning en verlies, die Here ons nie sal los nie.


Wanneer ons belofte groter is as ons,

is Hy selfs groter.


Die Here sal ons help om ons belofte,

en Sy plan vir ons,

waar te maak.

Elke dag.

Belowe.




Jou inspirasie vir die week: That’s the thing about praise



Commenti


bottom of page