top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Blaai gerus om


Van kleins af was ek ‘n leser. Daar was altyd ten minste vier boeke op my biblioteekkaartjie (dit was die maksimum), en as ek nie ten minste twee by my gehad het op ‘n naweek weg êrens heen nie, sou ek die ritteltits kry, want sê nou net ek lees die ene klaar en daar is nie ‘n volgende een naderby nie?!


So sou ek die genres deurwerk en fases deurloop van gunstelinge wat vervang word met ander. Uiteindelik was dit toe ‘n goeie “whodunnit page turner” waarheen ek telkemale sou teruggaan.


En sou dít my nou in die moeilikheid laat beland… want môre is skool!

Maar nog net één bladsy,

één hoofstuk,

wat dan twee word, of drie, vier, vyf….

skielik is dit 2am en nou-nou is dit nie skool nie, maar 8 – 5 werk!


Net lesers sal verstaan.


Die probleem met ‘n goed bekende, vaalgevatte boek – soos die Bybel – is dat die page turning kwaliteit daarvan mettertyd mag vervaag.


Die ding is - ons weet wie wen.

Tog…


So gereeld, net wanneer ons dit die minste verwag, kom bederf die Here ons met ‘n onverwagte oomblik, ‘n vantevore-misgeleesde-reël, ‘n nuwe insig op ‘n ou-bekende gedeelte en voila! Splinternuwe boodskap.


Watter ander boek kan dit doen?


Vanoggend was dit weer so.


Ons het ‘n besoekende dominee van die Oekraïne in die kerk gehad. Hulle moes al twee keer vlug weens die oorlog, die eerste keer al in 2014, en nou noem hulle al ‘n jaar lank vir Engeland huis.


Hy bring vanoggend se boodskap uit Handelinge 8, en ons lees die hoofstuk enduit saam.

Die eerste reël, vers 1 in my Contemporary English Version, heel bo links, bladsy 152 in die Nuwe Testament, lees: “Saul approved the stoning of Stephen.”


Klaar gelees, en terwyl ek veronderstel is om my aandag aan die prediking te gee, dwaal my oë egter verder en ek lees die opskrif van Handelinge 9: “Saul becomes a follower of the Lord Jesus.”


Dit staan in die middel van bladsy 153, net regs van bladsy 152.

Net 40 versies later.

Net ‘n bladsy-en-‘n-half.

Saulus word Paulus en sy hele lewe word anders.


Daar is geen einde aan die Here se Goeie Plan vir hierdie aarde nie, en jy is deel daarvan.


Soms kan jy nie die einde sien van die begin af nie, want dit sit op die agterkant van die bladsy waarop jou storie nou is.

Feit bly – dit is net een page turn weg.


In die afskeidswoorde van ons predikantsvrou vanoggend:

“Lord, we simply can not mess this up for you.”


Blaai gerus om.



Jou inspirasie vir vandag: On time God


Comentários


bottom of page