top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Bossies kan nie

Updated: Sep 21, 2020


Daar is mos maar heelwat goedjies om aan gewoond te raak wanneer ‘n mens trou. Aan die begin is ‘n mens se oë so deurtrek van die liefde dat die klein klippies in die skoen mos sommer so in die stap eenkant toe geskud word en dan huppel ons verder.

Maar soos wat die wittebrood beginne korsies kry, lyk alles nie meer so rooskleurig nie.

Vir my man was daar sekerlik menigte van sy eie klein irritasies wat hy moes absorbeer.

Mý doodsteek was stryk.

Hoekom weet nugter alleen. Want ek was vir 10 jaar alleen, en ek is nie dood daarvan nie. Maar om die een of ander rede het die verantwoordelikheid vir iemand anders se skaflikheid my net dwars in die krop gesteek.

Wanneer nou presies die dag en tyd was dat die strykmonster sy kloue uit my los gemaak het, kan ek nie sê nie. Al wat ek weet, is dat die Here my daarvan moes verlos het. Ek weet dit is so, want ek was so obsessief-geïrriteer daardeur, dat ek dit onmoontlik ooit uit my eie sou kon regkry.

Ek is alweer besig om te studeer, daai gogga sit nog steeds stewig aan my linkerhakskeen, en een van die goed wat ek gister raaklees bly my by: “A principle of adult learning is that participants will learn when they are ready to learn.”

Terwyl ek nou met Jeremia besig is, breek hierdie waarheid nou sommer vir my daar ook ‘n nuwe ligweg in.


Nes daar ‘n tyd was vir my om te leer hoe om my man se hulpmaat te wees, net so sou daar ‘n tyd kom waarin die Volk reg sou wees om te leer.

Die Here se geduld met die Israeliete het vir generasies gehou. Hulle steeksgeit ook.

Die fisiese swaarkry en hongersnood in Egipte en hulle verlossing daarvan het niks gedoen om hulle ‘n les te leer nie.

Toe hulle egter in die weelde van Babilon beland en die afwesigheid van die Here ervaar, was die tyd reg.

“Die Here sê: ‘Dit sal sleg gaan met iemand wat nie op My vertrou nie, maar op ander mense.

Mense is ook maar net vleis en bloed. Die een of ander tyd gaan hulle dood.

So iemand is soos ’n bossie in die droë veld.

Die bossie staan in ’n droë deel van die woestyn, in dooierige grond.

Dit is ’n gebied waar niemand regtig kan bly nie.

Die toekoms lyk glad nie goed vir so ’n mens nie.

Maar dit sal goed gaan met mense wat My vir alles vertrou.

Dit gee hulle moed vir die toekoms.

Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan.

Hulle wortels gaan ver af tot by die water.

Sulke bome kry nie swaar as dit baie warm word nie. Hulle blare bly groen.

Lang maande waarin dit baie droog is, is ook nie regtig ’n probleem nie.

Hulle hou steeds aan vrugte dra.’”

Jeremia 17:5 Die Boodskap

Iets wat by my bly opkom in hierdie gedeelte is dat die Here nie noodwendig van twee verskillende mense praat nie.

Dit bly aan my karring dat die voorwerp van die Here se gesprek met Jeremia dieselfde persoon was, maar in twee verskillende oomblikke van die lewe. Die Here weet, ek mag verkeerd wees, maar ek ervaar dit self.

In tye dat ek my vertroue plaas op my werk, my finansies, my regering, my ouers selfs… is my teleurstelling heel dikwels groot. So groot dat ek net so verlate voel soos daardie skraal bossie op daardie verdroogte vlakte.

Selfs al is ek ‘n vrygekoopte kind van die Here gebeur dit nog soms met my. Ek is nie imuun hierteen nie.

Die voordeel aan hierdie kant van my totale oorgawe aan die Here is egter dat ek weet die Heilige Gees kan my ingesteldheid en my denke en dit waarop ek my vertroue plaas, verander.

Dan is ek waarlik soos daardie boom langs die waterstroom. Al sou die winde waai en die wêreld om my verdroog, bly my wortels diep geanker in die Bron van lewende water.

As ek net lank en diep genoeg soek na die verkwikking daarvan, sal ek dit vind.

Toe die tyd reg was, het ek geleer.

“Hulle hou steeds aan vrugte dra.”

Bossies kan nie.

Maak my ‘n boom, Here.

Laat my vrugte dra.

Jou temalied vir die week: I need you


Comments


bottom of page