top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Di benoutigheid van hiri wêreld


My liewe Daleen-vriendin stuur sommer netnoumaar hierdie vir my aan:


“Di Jirre is my se Oppasser.

Hy knyp my lekke styf vas onner Sy se arms

mit genadigheit wat net Hy ken.

My se oge kyk ali pad op na my se Koning,

want dis dan wanner ek ni my se tone flinters stamp ni.

Kyk djy weg, vang di benoutigheid van hiri wêreld djou en

maak djou se bene lam virrie stap op di smal paadtjietjie.

So my sêding is di: Kyk ali pad boentoe, reg in onse Hemelse Pa se oge.

Moetie rondkyki... dan ga djy val!”


“Kyk djy weg, vang di benoutigheid van hiri wereld djou…”


Wees versigtig waarvoor jy vra, lui die gesegde. In hierdie wêreld is dit soms makliker om ‘n klip-hart te hê. Want as ek die Here vra om my oë oop te maak vir ander se seer, dan maak Hy ook my hart van klip sawwerig… Soos daai snye wit brood wat ma Stella in melk geweek het voor sy frikkadelle maak.


En om so ‘n sagte hart te hê in ‘n wêreld met baie skerp hoeke en dissels wat oral opslaan, is om te vra vir seerkry.


Ons dogter is in Malawi en sy vertel my laat gisteraand van *Nathan (naam verander). Nathan is ‘n straatkind – een van duisende waarvoor die regering geen antwoord of simpatie het nie. Maar Nathan het haar hart kom sag maak. Hy deel gister met haar dat hy so graag wil skooltoe gaan (skoolopleiding is gratis in Malawi), maar hy kort boeke en ‘n uniform. Dit kan nog seker uitgesorteer word, maar die feit is: as hy skool toe gaan, het hy nie tyd om geld te bedel vir kos nie…


Here, toe my hart nog hard was,

het ek nie gehoor van die Nathan’s van hierdie wêreld nie.

Of as ek het, het dit doodeenvoudig van my af weggespat.

Dit was minder seer.


In Sirië hoor iemand ‘n kind sê: “Ek is nie bang nie, want Mamma het gesê as ek doodgaan gaan ek na God toe en Hy het sommer baie kos vir my.”


En my sawwe hart val inmekaar.


Op hierdie trant kom die volgende gedagte by my op (en hierdie staan nêrens in die Bybel nie en daar is geen teologiese grondslag hiervoor nie, so moet my asseblief nie kruisig nie): Natuurlik was Jesus volkome God en volkome mens ook in Sy tyd hier op aarde. En nes mense het Hy seker ook gebloei as ma Maria sy toonnaels te kort sny, of het Hy dalk ook maagpyn gekry van rou deeg eet voor sy die kleinkoekies in die warm gemaakte AGA kon sit.


Menslik.


Nou as my, onperfekte mens, se hart dan pyn wanneer ek ander sien swaarkry, dan wonder ek of Christus se woorde daar in Getsemane meer ingehou het as wat dit op die oog af lyk?

(‘n Harde hart sou tog nie Sy hartseer oor Sy vriend se dood laat opteken het nie…?)


As ‘n mens kan ek verstaan dat Hy nie daardie beker wou drink van slaan en spoeg en spykers en ‘n doringkroon nie. My menswees sou ook vasgeskop het.


Hoeveel te meer nie teen die hart se pyn nie. Want as God sou Hy ‘n hele wêreld se hartseer in een oomblik op Homself neem…


Die seer van Sy eerste twee skepsels se skuldbesef,

die seer van eersgeborenes se dood, Petrus se selfhaat, Judas se verraad,

Paulus se vervolging…

Die seer van Hitler, Hirosjima, wêreldoorlog op wêreldoorlog…

Die seer van 9/11, tsunami’s, aardbewings, selfmoordbomme en skoolskietery…

Die seer van Apartheid. Die seer van plaasmoorde. Die seer van droogtes…

Die seer van klein Mienke se gesteelde glimlaggies, my man se sig-uitdaging,

my Lara se beenpyn…


…alles op Homself. Ek kan my nie indink nie.


Maar hoe dan gemaak? Sawwe harte kyk na die wêreld van 2018 en sukkel om Jesus raak te sien. Amper soos die dissipels in Johannes 13:


“Toe Judas by die deur uit is, sê Jesus: “Nou gaan die dinge begin gebeur.

Julle sal sien hoe belangrik die Seun regtig is. Dan sal julle ook sien hoe groot en belangrik God is. Hierdie groot God gaan self vir julle wys hoe belangrik sy Seun is.

En julle sal nie meer lank hoef te wag om dit te sien nie.

My liewe vriende, my tydjie by julle raak nou min.

Ek gaan weg en julle sal My soek, maar My nie kry nie.”


En vir die eerste keer sien ek dit raak: God wys ons hoe belangrik Hy is, hoe belangrik Sy Seun is, toe Sy Seun eers weg is. Want toe Sy Seun weg is, toe help dit nie meer om rondom ons te kyk en te soek na Jesus nie. Hy is nie meer hier nie. Nou is daar net een kyk en dis opkyk.


“Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het.

Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene.”

Efesiërs 1:19 Die Boodskap


Dieselfde krag wat Jesus uit die dood laat opstaan het, is ook in ons. Daardie selfde krag word die sagte aanraking onder my ken wat my oë laat draai – hemel toe – wanneer my sawwe hart weer ‘n linkerhaakhou kry. God self hou dit veilig.


Klink na so ‘n holruggeryde cliché, maar ons met sawwe harte weet:

Maak nie saak wat die vraag is nie, Christus is die antwoord!




Jou temalied vir die week: THE GOSPEL

Comments


bottom of page