top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Die dinge waaroor ons saam kan huil




Maak nie saak wat ons van mekaar skei nie – die dinge waaroor ons saam kan huil, bind ons harte saam.

En gister het ek lank en lelik gehuil oor ‘n man wie se naam ek nie eens ken nie, wat huil oor sy hondjie wat siek is en waarvoor hy nie ‘n antwoord het nie.


Maar kom ek begin by die begin.


In ‘n heel goeie bui is ek en manlief oppad dorp toe en om daar te kom ry ons deur ‘n township. Dieselfde townshipwat my klein hou, dankbaar hou, soms verslae net reg voor my laat kyk.


Maar nie vandag nie. Vandag is ‘n goeie dag. Dit het lekker gereën en die beeste en kalwers wei op vars groensels wat oral lyf wys. Die tjokkertjies speel sokker en daar is tot ‘n klein hondjie wat tussen hulle rondhardloop… hy wil net saamspeel, man!


Skaars daar verby sien ek ‘n snaakse ding: ‘n Jong man met ‘n hond oor die skouer. Nie ‘n klein hondjie nie. Nouwel ‘n jong, opgeskote hond, maar geen chihuahua nie.


Ek kry skaam om te sê, maar ek moet dit sê: Toe ek dit sien, staan my veroordelende, donker kant op en ek wonder na watter hondegeveg hierdie arme dier nou gevat word. Dit maak my so kwaad dat ek in die tru-spieël bly kyk tot ons om die draai gaan, maar die man met die hond bly my by.


Klaar ons goete gedoen, ry ons terug en wraggies: hier is die man weer. Nou seker al 2km verder, steeds met die hond op die skouer, maar nou om die draai van die veearts af… die sweet blink op sy voorkop gesaai.


En soos ‘n lig wat aangaan dink ek: Wag ‘n bietjie – hierdie ou is nie ‘n fighter nie, hy’s ‘n lover! En dis daar waar ons harte konnekteer.


Hubby sê dis reg en ek probeer ‘n omdraai plek kry om die man te gaan help. Kry hom uiteindelik eers weer in die veearts se ontvangs waar hy op sy knieë by die hondjie sit. Toe ek afsak om te vra of hy okay is, begin sy lyf te ruk.


Ek sit my hand op sy wit t-shirt rug en voel net vel en been. Toe hy opkyk na my sien ek eerste die oorbel, maar die trane oor sy wange wen my en my eie keel raak dik, want hy het nie ‘n antwoord nie en hierdie maatjie van hom het seer.


Sal dít dalk ‘n meer akkurate maatstaf wees van wat ‘n ‘goeie mens’ nou eintlik is? Het dit toetentaal iets te doen met kerke en karre en klere??


Hoe kan ‘n ‘slegte mens’ huil oor ‘n dier wat vir hom (mens) geen waarde inhou nie, behalwe om hom (mens) lief te hê?


“Good people are kind

to their animals,

but a mean person is cruel.”


“Die regverdige

gee om vir sy diere,

maar ’n goddelose mens

is altyd baie wreed met hulle.”

Spreuke 12:10


Daar is ‘n bekende gesegde wat lui:

Show me who your friends are

and I will show you

who YOU are.


Ek dink al lank so hieroor en hierdie naweek was vir my net weer bevestiging: Wys my hoe jy jou diere hanteer en ek sal jou sê wie jy is.


“’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom:

goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. 

’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom

kan ook nie goeie vrugte oplewer nie.

Matt 7:17


As jy dalk hierdie man ken, sal jy asseblief hierdie briefie met hom deel?


Liewe Man met die hondjie by Cape Cross Saterdag 2 Junie


Meneer, ek ken nie jou verhaal nie. Ek ken nie eens jou naam nie. Maar dit voel of ek jou hart al baie lank ken.


Ek dank die Here dat hy jou na daardie plek toe gelei het waar hulle so baie omgee vir die diere wat hulle behandel, maar ook vir die mense wat hulle soontoe bring. Jou hondjie is in goeie hande.


Dalk is ek nou voor-op-die-wa, maar ek dink jy is ‘n Godskind, nes ek. ‘n Hart wat so rou hartseer kan wees oor ‘n ander lewende wese wat nie eens kan praat nie, moes êrens al met die groot Liefde kennis gemaak het.


As ek hoed gedra het, het ek dit vir jou afgehaal. Nes ‘n vader vir sy kinders alles sal doen het jy gister ‘n goeie 4km gestap met 15kg oor jou skouer. Uit liefde.


Ek bid dat die Here jou toewyding en mooi hart nog lank en wyd sal gebruik.

Mag die Here jou gebed verhoor en jou genadig wees.


Groete,

Maxie


In hierdie land van ons gaan dit oor baie meer as honde. Wat laat jou huil vanaand?

Laat die vyand ons nie bluf nie: Dit wat ons in gemeen het, is baie meer as dit wat ons van mekaar skei.


Jou temalied vir die week: You Promised

bottom of page