My skoonma is oorlede ‘n maand voordat ek en my man getroud is, so vir my was sy nog altyd net Tannie Triensie. Ek het nooit die voorreg gehad om haar Ma Triens te noem nie.
Wat ek wel weet, is dat sy ‘n besondere mens was, en ek het nog nie een staaltjie gehoor wat my anders kon oortuig nie.
Een van die goed wat my man beslis bybly, is hoe baie sy die woordjie “nou-nou” gehaat het.
Nou ja, om die konsep van “nou-nou” vir iemand hier in Engeland te verduidelik, is effens bo my salariskerf, want daar is doodeenvoudig net nie ‘n ooreenkomstige maatstaf nie.
Dit kan beteken “oor 5 minute”, of “later vandag”, of in uiterste gevalle selfs “môre”.
Maar my man en sy drie boeties was nie die eerste Uitstellers op aarde nie.
Die heel eerste Uitsteller is heel moontlik die een waarvan ons lees in Eksodus:
Die farao het toe vir Moses en Aäron laat roep en by hulle gesoebat:
“Smeek tog die Here dat Hy die paddas van my en my mense moet wegvat.
Ek sal die volk laat gaan sodat hulle vir die Here kan gaan offer.”
Moses het die farao sarkasties geantwoord: “En wanneer sal dit u nogal pas
dat ek sal bid dat die paddas van u en u dienaars en u volk en uit u huise
weggevat sal word en net by die rivier sal bly?”
“Môre sal vir my reg wees,” het hy geantwoord.
Eksodus 8:10 Die Boodskap
Verbeel jou: Paddas in die Weet-Bix, paddas in die kar, paddas in die kot, paddas in die toilet.
Hoekom op dees aarde sou die farao die verpesting ‘n óómblik langer wou verdra?
Hy het heel waarskynlik gehoop dat hierdie toetsende tyd ‘n natuurlike dood sou sterf, en dan sou hy die Israeliete en hulle God niks verskuldig wees nie.
Of dalk het hy in sy onkunde gemeen dat so ‘n groot penarie ‘n redelike mate van tyd nodig het om uit te sorteer. Jy weet – om die beplanning te doen, die logistieke in plek te kry, en so aan.
En Moses help hom nie reg nie.
Hy stem bloot in.
Ek lees hiervan en ek grinnik verniet oor die farao se kortsigtigheid, want hoeveel keer doen ek dit nie self nie?
Die uitdagings wat soos verpeste paddas oral in my dag en in my gedagtes en in my drome opduik, verdra ek maar net te geredelik.
Met een gebed kan ek hulle oorgee in die Here se hande en Hy sal dit vir my uitsorteer.
Maar ek kies om dit vir myself te hou, want dalk glo ek dat ek ‘n bietjie van hierdie lyding verdien – ek is nie perfek nie en ek verdien dalk nie beter nie.
Of dalk glo ek naïewelik dat dit môre beter sal gaan, sonder dat ek myself té weerloos voor die Alsiende Heerser van die heelal hoef te ontbloot.
Of ek kan net nie met my menslike verstandjie insien hoe hierdie berg in die see kan beland nie. Ek vergeet soms die grootheid van die Godheid.
Oom Charles Stanley sê vanoggend so mooi:
“I can thank Him with my lips, until
I can thank Him with my heart.”
Dit hoef nie vir my te vóél of al my opdraendes op ‘n einde is wanneer ek vandag besluit om dit vir Hom oor te gee nie.
Ek moet dit net glo.
Jou inspirasie vir die week: Good plans
Comments