Dit is nie vir almal ‘n ding nie.
Maar vir baie mense is die begin van ‘n nuwe jaar die geleentheid om verwysingsraamwerke en oortuigings op die skaal te plaas en van voor af te weeg.
Jou eie aandeel aan die suksesse en die teachable moments van die vorige jaar objektief en sonder verskonings in ag te neem.
Jou eie begin-van-die-jaar- en einde-van-die-jaar-self in die spieël van die Woord staan te maak en die goggas of die groei raak te sien.
Soveel beginne.
Soveel eindes.
Soveel sê-nou-maar’e.
Soveel wat-het-my-besiel’e.
En die een gemeenskaplike deler in elke moontlike situasie – tensy jy jouself alleen op ‘n verlate eiland bevind het die afgelope 12 maande – is… mense.
Tim Keller meen dat die een onteenseglike karaktertrek van ‘n groeiende Christen, ‘n sagte gees is.
Gentleness.
Ai.
Hoeveel keer hierdie laaste 365 dae het my growwe kante se ongeduldige verbyskuur in die drukgang van hierdie lewe die nerwe van my naaste naastes laat bloei?
En as ‘n mens diep, dieper – nee, nóg dieper gaan grou, dan maak die volgende stelling dalk uiteindelik sin: Die teenoorgestelde van liefde is nie noodwendig haat nie, maar vrees.
Dit is nie haat wat my jou kop laat afbyt nie.
Dit is die vrees dat jy reg is.
Dit is nie haat wat my driftig met jou keuses laat verskil nie.
Dit is die vrees dat ek nie genoeg sal kan doen om jou te red van die gevolge daarvan nie.
Dit is nie haat wat my verhoed om kwaliteit tyd saam met jou te spandeer nie.
Dit is die vrees dat ek die feilbaarheid van my liefde sal ontdek.
In die tyd van Haggai het die Volk die kans gekry om die Tempel van die Here weer van voor af op te rig en te bou. Maar hulle eie stryd om oorlewing het hulle nie juis entoesiasties gemaak daaroor nie. Buitendien, hulle kon net nie sien dat hulle ooit die perfeksie van die oorspronklike Huis van die Here kon herhaal nie.
En hulle raak moeg.
Vrees vir mislukking verlam hulle.
Maar dan bring die profeet hierdie bemoedigende woord:
“Haggai then told them that the Lord had promised to be with them.
So the Lord God All-Powerful made everyone eager to work on His temple…”
Haggai 1:13 CEV
My maatemmer is gereeld soggens maar legerig wanneer ek nog slaapoog voor die Here gaan kniel.
Maar dank die Vader, ek hoef nie leeg daar weg te stap nie!
Solank ek bly kom na die fontein, dag na dag na dag,
sál Hy my daar ontmoet,
sal Hy daagliks my vrees verruil vir Sy verstaan dat alles nie altyd verstaan hóéf te word nie.
Solank ek bly glo dat Hy my liefhet ten spyte van die uitgrawings en verbouïngs en aanbouïngs wat op die ewige konstruksieterrein van my hart aangaan, hoef ek geen vrees te hê om Hom die vrot pype te wys nie.
Daardie dele wat nog net reg is vir platslaan, is juis die dele van myself wat Hom opgewonde maak!
Jou inspirasie vir die week: Arrows
Comments