top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Die hemel is op stand-by


“Our streets are not empty;

they are filled with the love and the care we have for each other.”

Queen Elizabeth, 8 Mei 2020

Die Koningin se sentiment het dit so mooi beskryf op die herdenking van VE dag – “Victory in Europe” dag – hierdie jaar. Dit was of haar woorde eintlik reg uit 1945 weerklink toe die meeste van Europa in stukke en leeg gelê het.

Dit was die einde van die Tweede Wêreldoorlog en die goeie het die bose oorwin. Hitler het oorgegee, omdat hy nie langer teen die oorlewingsdrif van ‘n tiental Godsvresende nasies kon wen nie.

“This is no war of chieftains or of princes, of dynasties or national ambition;

it is a war of peoples and of causes.

There are vast numbers, not only in this Island but in every land,

who will render faithful service in this war, but whose names will never be known,

whose deeds will never be recorded.

This is a War of the Unknown Warriors”

Winston Churchill, 1940

Ek wonder of daar op daardie dag net so baie mense was wat gewonder het of hulle hoekie van die wêreld ooit weer sou kon heelword? Want dis moeilik om die groen koring op die land te sien as die kluite omgedolwe lê en wag vir die eerste reën.

In tye soos hierdie waarin ons tans leef, kan dit fataal wees om ons hele toekoms net op die hier-en-nou te bou. Soos ‘n Facebook-inskrywing my herinner:

“If you don’t like the mask,

you’re definitely not going to like the ventilator.”

Die Here het al soveel keer, op soveel ontelbare maniere, vir ons gewys dat tydelike pyn die vermoë het om groot uiteindelike vreugde te baar. Maar ons mensies is lugtig vir suffering (ala antie Stienie) en ons wil dit met mag en mening van ons geliefdes af weghou. Dis nie ‘n nuwe ding nie.

Toe die Assiriërs Juda binneval in Jesaja 36, het die koning van Assirië ‘n baie basiese boodskap met sy weermagaanvoerder Jerusalem toe gestuur en dit daar buite die stadsmure uitbasuin: “Vir wat glo julle nog in die Here? Hy is in elk geval die josie in vir julle.”

Waarop koning Hiskia van Jerusalem se drie raadgewers pleit:

“Praat asseblief tog met ons in Aramees. Ons verstaan dit goed.

Moet asseblief nie in Hebreeus met ons praat nie,

want die mense op die muur sal dit kan verstaan.”

Jesaja 36: 11 NLV

Daar is mense wat in hierdie tyd deur ‘n geweldige geloofskrisis gaan. Deur te maak of dit nie bestaan nie, of dit af te maak as ongelowiges wat sal kry wat hulle verdien, of met alle geweld al wat ‘n slegte nuusbrokkie is van hulle af weg te hou, is nie wat die Here in gedagte gehad het nie.

‘n Geloofskrisis is nie moontlik sonder die basiese bestanddeel, geloof, nie. En as ons glo dat Hy nooit die werk van Sy hande laat vaar nie, moet ons ook glo dat Hy diep binne-in Jona en Job en Dawid en die vreesbevange Suid-Afrikaanse siel kan sien en weet hoe dit uitroep:

“Ek wil glo, Here! Help my ongeloof!”

Markus 9:24

En daarom is daar selfs vir die twyfelaar troos. Dit is nie die grootte van ons geloof wat die redding bring nie, maar die grootte van Sy Godheid:

“I will protect it (Jerusalem) for the sake of my own honour

and because of the promise I made

to my servant David.”

Jesaja 37:35

Die Unknown Warriors van ons tyd is dalk nie net diegene wat omsien na ons vleeslike welstand nie, maar veral ook die bidders wat onophoudelik bid vir elke twyfelaar, elke keer as ‘n kop sak, ‘n voet struikel, ‘n siel wil bly lê.

As jy ‘n bidder is, weet dit: Jou gebed bring die hemel in beweging. En ‘n leërmag van engele staan gereed.

Jou temalied vir die week: Hope returns


Comments


bottom of page