top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Die Here se S-L-O-W Lounge




“If you treat the Sabbath as a day of joy,

God’s holy day as a celebration,

If you honor it by refusing ‘business as usual,’

making money, running here and there—

Then you’ll be free to enjoy God!”

Isaiah 58:14


Om betyds by die lughawe te kom kan ‘n senutergende affêre wees.


Die verkeer kan jou uitboul, of die parkering kan tjok-en-blok wees en jy moet om en om en op en op ry totdat jy 3-dae te perd van Departures af is.


As jy egter gelukkig genoeg is om die laaste groen liggie in die parkering joune te maak, mag jy dalk halfpad oppad gebou toe nie onthou waar jy jou parkeerkaartjie gesit het nie, en sê nou die het uitgeval toe jy uitklim en lê nou langs die kar waar dit verseker nie meer sal wees wanneer jy eendag terugvlieg nie?!


Sou jy uiteindelik in die lughawegebou kom en dapper met jou boarding pass in die lang tou loop staan om deur Sekuriteit te gaan, kry jy ewe skielik nie jou ID nie en moet jy dalk terughardloop inboektoonbank toe waar hulle jou wys dat dit vanuit jou boonste hempsak vir hulle loer.


Terug toustaan toe, en nadat jy al jou blikbreine uitgepak en verklaar het en geen masjientjies gepiep-piep het rondom jou nie, is jy vry om te loop wag vir jou ystervlerke waar jy ookal wil.


Een van die lekker bederfies vir gewone mense is wanneer jy dan aan hierdie kant met die hysbak boonste verdieping toe gaan en inboek by die S-L-O-W Lounge.


Wat is die S-L-O-W Lounge, hoor ek jou vra?


Sommige bankinstellings bied vir sommige van hulle kliënte die voorreg om by hierdie rus-cum-eetplek te loop ontspan en jou binneste stig vir 90 minute voor jou vertrek, en alles heeltemal gratis en reeds betaal.


Jy word hier vriendelik verwelkom, en met die instap lok die sagte, invalbanke voor die reuse glasvensters jou nader. Soos wat jy daar neerplons, met al jou onmiddellike wêreldse besittings om jou, kan jy uiteindelik asem uitblaas.


Vir die volgende 90 minute is hierdie ‘n oase.


Eers, ietsie te drink.

Gratis.

Dan, ietsie te eet – veral as daar nie nog tyd was voordat jy moes jaag lughawe toe nie!

Gratis.

Dan net ietsie soet saam met ‘n koffietjie of groen tee of wat ookal jou bootjie laat seil…

Gratis.

En jy help jouself.

En die buffet bly oop

en die put bly gooi

en jy vang jouself by die muur van boeke wat jou naderlok met daardie een wat jy nog altyd wou beloer,

terwyl elke elektroniese dingetjie ingeprop word vir nog ‘n batterylaai voor jy die hemele bestyg.


As jy dit ekstra spesiaal wil maak, boek jy jouself natuurlik in vir ‘n 20-minute massering om al die stresse van die laaste paar uur te verdryf.

Ook gratis.


En jy geniet elke oomblik.

En jy voel spesiaal.


Sondag is veronderstel om die Here se S-L-O-W Lounge te wees.


Op Sondag is ek nie veronderstel om nog besigheid te jaag of nog followers te jaag of nog góéd te jaag nie.


Want op Sondae het ek die voorreg om dit wat die Here reeds vir my betaal het, te geniet.


Ek behoort welkom te voel in die huis van die Here.

Ek behoort te weet dat ek daar kan eet en drink van dit wat Hy vir my voorsit met die stille wete dat ek niks hoef te doen om daarvoor te betaal nie.


Ek behoort myself op Sondae in te prop by dit wat my ordentlik kan vol laai vir die week, nie net die kort boosts wat my battery net tydelik uit die rooi uit haal nie.


Ek behoort te voel hoe my hele wese ontspan en my hele liggaam vryer asemhaal op hierdie een dag wat die Here pertinent vir my gegee het om rus te vind, voordat ek weer die wêreld en al sy reise aanpak.


In die Here se S-L-O-W Lounge kan ek elke Sondag die Here skaamteloos en in vrede geniet asof niks anders bestaan nie.


En ek het nie eers ‘n spesiale rekening hiervoor nodig nie.

My glo-in-Jesus betaal my toegang.


“Welcome to the S-L-O-W Lounge.”


Jou inspirasie vir die week: Psalm 91



bottom of page