“A man’s larger influence depends on the character shown
in the smaller sphere.”
Henry Spencer-Jones
“Vergroot my grondgebied, Here” vra Jabes.
Vir al wat ons weet van Jabes, kan ek net een ding dink: Hy moes geweet het, of geglo het ten minste, dat hy die krag en die energie en die insetkoste en die onderhoud wat ‘n groter gebied sou bring, sou kon bekostig.
As ‘n mens 27 is en die wêreld aan jou voete het, sien jy kans om kaalvoet die Drakensberge oor te steek op pad na jou droom… -werk, -huis, -liefde, -toekoms.
Op 43 lyk die berg bietjie meer uitdagend realisties en moet jy in jou stilligheid lag (en skaamkry ook) oor die voortvarende naïwiteit van jonkwees.
Tog dink ek dit is hoe ons met ‘n plan aanmekaar geweef is. Nie net in die oomblikke van elke lewensfase nie, maar ook hoe verskillende mense se paaie vervleg, elkeen in hulle eie seisoen, om ‘n aaneenlopende storie te skryf wat sin maak.
Dan kan ek nie help om te dink aan my vriende van ander kleure nie.
Hoe verskillend het ons nie grootgeword nie.
Hoe verskriklik dieselfde soms ook.
‘n Vriendin wat ek ontmoet het op een van die Afgebreek-Opgetel-Oorgemaak kampe herinner my hierdie week daaraan hoe kosbaar daardie asemskeppies was. Dit het my weer laat onthou hoe ‘n mens binne-in ‘n bubble soveel makliker ou gewoontes, sienings en verwysingsraamwerke kan neersit vir ‘n oomblik: Binne-in ‘n naweek-bubble, of ‘n Bokke-bubble, of ‘n tragedie-bubble.
Die mense wat afbreek omdat hulle seer het, trek ánder mense aan wat seer het en ook nie weet wat om daarmee te maak nie.
Seer mense het nie ‘n kleur nie.
Hulle kleur is: seer.
Vir g’n oomblik kan die skade wat hulle aanrig of die leed wat hulle ander aandoen sommer net oorgesien word en ongestraf bly nie. Maar watter kleur die klip gooi of die mes steek of die vuurhoutjie trek, behoort nie saak te maak nie.
Toe Jesus gesê het: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie,” het Sy woorde met goeie rede weerklink tot in die 21ste eeu.
Want mense is nog steeds seer.
En in hulle stukkende toestand wil hulle alles en almal om hulle ewe stukkend sien.
Maar hier waar ek nou is, in my stukkie van die wêreld, laat ek ‘n pleisterdraer wees, Here.
Ek kan nie geslagte se rekords uitwis nie, maar so ook nie my veelkleurige bure nie.
Al wat ons kan doen, is om binne die stukkie grondgebied wat ons nou het, die grond goed te bewerk.
Nie ‘n geval van jij in je klein hoekje, en ik in mijn nie. Maar sáám.
Al is dit nou ook 2m uitmekaar uit.
Soos Jabes wil ek glo dat elke 2m wat my gebied groei, sy eie stuk krag en genade sal ontvang vir wie ek ookal daar mag raakloop.
En dat my pleisters genoeg sal wees.
Jou temalied vir die week: Out of hiding
コメント