top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Die Meester van balans


Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het ek hierdie week by Port Elizabeth se waterkant verbygery. Nie daar waar hulle die draairoomyse verkoop nie, maar daar waar die gróót bote so ‘n seemyl of wat oseaan-in lê en son vang, al langs die kus af tot by Blouwaterbaai.


Op ‘n mooi dag voel dit vir my jy kan amper tot teenaan wes-Australië se kus sien van daar af. Ander dae is die see rof en die perde se maanhare staan wit op die water en die sproei spring hoog bo die betongevormde dolosse uit.


En dis toe nou juis daardie dolosse wat my aan die dink sit hierdie week.


Hierdie dolosse lyk mos kompleet soos ‘n seuntjie wat sy speelgoed sommer so op ‘n ry langs die waterkant gelos het. Die enigste verskil is, hierdie interessante geometriese betonblokke weeg elk omtrent 30 ton en daar is ‘n hele 25 000 van hulle al langs die kus van Port Elizabeth!


Die doel van hierdie dolosse is om die breekwater se wegkalwing van die natuurlike kuslyn te verhoed. Maar hoekom dan nie sommer ‘n muur bou nie?


Met die dat die dolosse sommer so holderstebolder bo-op mekaar gestapel lê, is daar gaatjies en inhamme en openinge waar ‘n gedeelte van die breekwater tog nog kan in. Nie genoeg spasie om skade te maak nie, maar daarsonder, sou die struktuur een-of-ander tyd moes ingee onder die nimmereindigende aanslae van die see.


Die dolosse keer en beheer en beskerm – juis deur ‘n bietjie van die breekwater deur te laat.


Balans.


In 1 Kronieke 21 lees ek van Dawid wat alweer die pot mis gesit het. Sy doel was ‘n volkstelling en opsigself heel onskuldig, maar sy motief was eiewaan en hoogmoed en ‘n ongeloof in die voorsienigheid van die Here. En ons regverdige God moes dit straf.


“Die Here het vir Gad, Dawid se siener, gesê: ‘Gaan sê vir Dawid: ‘Die Here sê:

Kies een van die volgende drie moontlikhede as ’n straf oor jou sonde en Ek sal dit laat gebeur.’ ‘

Gad is toe na Dawid toe en het vir hom gesê: “Die Here sê u moet kies tussen: drie jaar hongersnood,

drie maande van vernietiging deur u vyande of drie dae van ernstige siekte,

terwyl die engel van die Here vernietiging oor die hele land van Israel bring.”

1 Kronieke 21:9 Die Boodskap


Dat die God van die heelal nog enigsins vir broer Dawid ‘n keuse gee, gaan my verstand eintlik te bowe. Na alles, sou God nie geregverdig wees daarin om sommer alles en almal te vernietig nie?


Maar God is ‘n God van balans.

Hy sal nooit die werk van Sy hande uit die oog verloor nie. Selfs ook nie wanneer dit kom by Sy oordeel nie.


So toe Dawid in groot nederigheid kom askies sê, het die Here geweet Hy moes Dawid se ongehoorsaamheid straf.


“Dawid het toe vir God gesê: ‘Dit was ék wat beveel het dat die volk getel moes word. Dit was my fout en ek het die sonde gedoen. Wat het hierdie arme mense gedoen? Here my God, U kan my en my familie swaar straf, maar spaar tog u volk van die siekte-epidemie!’ “

1 Kronieke 21:17 Die Boodskap


Die Here het geweet dat Hy Dawid se ongehoorsaamheid moes straf, maar deur ‘n bietjie van die breekwater deur te laat en nie totaal en al onversetlik te wees nie, het die Here op die ou einde in Dawid ‘n Godsman van dieper karakter gevorm, een wat die aanslae wat nog na sy kant toe sou kom, beter sou kon weerstaan.


Soms straf die Here groot en totaal en Sy doel daarmee sal ons eendag weet.

Soms straf die Here in genade en die uiteinde daarvan is nie vernietiging nie, maar nuwe lewe en groei.


Balans.


Jou temalied vir die week: Breakthrough


Comments


bottom of page