top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Die oog van die dirigent


Die Joodse geleerdes en Fariseërs was alweer aan die konkel…


“Hulle sê toe vir Jesus: ‘Jy is mos die hele tyd besig om mense te vertel wat hulle moet doen. Nou ja, ons het hierdie vrou op heterdaad betrap toe sy by ’n man geslaap het wat nie haar eie is nie. Moses se wet vertel vir ons presies wat ons met so ’n vrou moet maak:

sy moet dood! Met klippe moet ons die laaste asem uit haar uitgooi.

Maar sê jy nou ’n bietjie vir ons: Wat dink jy moet ons met die vrou maak?’


Die Joodse geleerdes wou egter nie regtig hoor wat Jesus dink nie. Hulle het Hom dit maar net gevra om Hom in die moeilikheid te probeer bring. Hulle het gehoop Hy sou sy mond verbypraat en iets sê waaroor hulle Hom voor die hof kon sleep.

Maar Jesus was te uitgeslape vir hulle.

Net daar waar Hy gesit het, het Hy vooroor gebuig en met sy vinger iets in die grond geskryf.”


Dit was egter nie die antwoord waarvoor hulle gewag het nie, so hulle hou aan neul.


“Uiteindelik kyk Jesus op en sê vir hulle:

‘Nou goed, gaan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen.

Maar daar is een voorwaarde: die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste ’n klip optel en haar daarmee gooi.’

Weer het Jesus vooroor gebuig en iets in die grond geskryf.”

Johannes 8:4 Die Boodskap


Daar word wyd bespiegel oor wat presies dit nou was wat Jesus daardie dag in die stof sou skryf. Maar as dit die heel belangrikste was, sou dit sekerlik nie van ons weerhou word nie?


Dalk was dit belangriker om die situasie in ag te neem.


Hierdie vrou word aangeval, en Jesus ook.

Dan neem Hy ‘n stil oomblik.

Die volgende woorde uit Sy mond spreek van Goddelike wysheid en kalmte.

En in die stilte wat volg, verdwyn die aanhitsers een vir een…


Die oorspronklike Hebreeuse woord vir “wees stil” is rapha. Van al die verskillende betekenisse vir die woord, is een daarvan “laat gaan”.

Dit kan ook beteken “laat sak jou hande.”


Wanneer dit voel of ek aangeval word, is dit moeilik.


My man deel hierdie week die beeld van ‘n simfonie-orkes met my en onmiddellik kom die Royal Albert Hall met sy glansryke dieprooi- en goue fluweel by my op.


Nou, veronderstel ek speel die viool by die openingsaand van die BBC Proms, en doer af in die ry is die ou op die trompet besig om vreeslik droog te maak. Dit lê sleg op my oor en bederf die hele vertoning en ek raak opgewerk en onsteld.


As ek egter myself sou verrek om bo-oor my boog en al die ander musikante en hulle instrumente ‘n kyk-van-kyke vir die kwaaddoener te gee of ‘n paar sterk bewoorde riglyne, verloor ek dalk net my eie noot!


Buitendien, dit is in elk geval nie my verantwoordelikheid nie.

My oog moet net op die dirigent wees.


Hy sal self die trompetter se skewe note aanspreek en daarmee deel.


Of dit nou is om die dromslaner se volume te verhoog, of die trompetblaser ekstra longoefeninge te gee, of om hom ‘n driehoekie in die hand te stop... Op ‘n manier sal hy sorg dat die totale klank van die orkes in harmonie is met dit wat die komponis oorspronlik beplan het.


Dit help egter wanneer ek, vioolspeler, die trompetterknaap deur die bril van liefde kan bekyk.

Dan sou ek dalk eerder ‘n bemoedigende oogknip stuur as ‘n afbrekende verwyt.


En die oog van die dirigent sien mos alles raak.

Die vals note én die motiverende aanmoediging.



Jou inspirasie vir die week: End of me


bottom of page