top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Die Plan



Grounding techniques word vertaal as ‘verankeringstegnieke’. Aanlyn word veral daarna verwys in situasies waar mense met post-traumatiese stres, angstigheid en trauma gekonfronteer word.


Daar is ellelange lyste hiervan, maar feitlik almal het hierdie een in gemeen:


Let op en identifiseer 5 goed wat jy kan sien, 5 goed wat jy kan hoor, 5 goed wat jy aan kan vat en voel, 5 goed wat jy kan proe, 5 goed wat jy kan ruik.


Dit is soortvan “Die Plan” vir enige iemand wat skielik moet raad gee in ‘n situasie waarvan hulle dalk baie min kennis of ondervinding het… sonder om skade aan te rig!


Ons hulp en raad in sake van die gees het egter ‘n baie meer betroubare bron.

Jesus self het vir ons Die Plan nagelaat vir so baie van vandag se vrae.


Wat as ek nie kan bid nie?

Wat as my bid verdwaal tussen die 1,000 goed wat my aandag in ‘n 1,000 verskillende rigtings trek en ek net nie my gedagtes kan fokus op die Een wat staan en klop by my hart se deur nie?


Soms is daar net een warrel in my kop vroegoggend en al waaraan ek kan vasgryp is “Onse Vader wat in die hemel is…”


Ek wonder of die Here dit dalk juis bedoel het vir meer as nét die dissipels se uitgesproke “Here, leer ons bid.”

Dalk kan ek myself maar verstout om te dink dat Hy geweet het daar gaan dae kom dat hulle nie hulle eie woorde kon vind nie, en moes terugval op Die Plan.


Of wat as my glo ‘n pap wiel kry?

Dit loop nog… wankelrig, maar darem. Maar ek vrees dat ek dit nie enduit sal maak nie.

Haal asem. Dit is ook in Die Plan.


In Lukas 17 lees ons van die tien melaatse mans, nege Jode en ‘n Samaritaan, vir wie Jesus gesond gemaak het. Die Samaritaan, nie eers ‘n mede-Jood nie, draai om toe hy die wonder ontdek en loop sê ‘n ordentlike dankie vir die Een wat dit so bewerk het.


Wanneer Jesus dan klaar Sy les oor on-dankbaarheid met die dissipels gedeel het, draai hy na hierdie man en sê vir hom:


“Get up and go [on your way].

Your faith [your personal trust in Me and your confidence in God’s power]

has restored you to health.”

Luke 17:19 The Message


Maar dit het begin by die man se dankbaarheid.


Wanneer my glo weg is, kan dit nie skade doen om my dankbaarheidspakkamer vir ‘n slag bietjie uit te pak en reg te pak nie.


Ek is ‘n sentimentele enetjie, en toe ons nog baie pakplek gehad het, het ek graag vatbare tekentjies van mooi oomblikke, dae en ervarings gebêre. Maar ek wonder nou hoeveel keer ek dit regtig uitgehaal en bekyk het met ‘n diepe gevoel van dankbaarheid?


Want dankies laat onthou ons van die goedheid van die Here,

en wanneer ons onthou van die goedheid van die Here,

word ons geloof versterk ín die goedheid van die Here,

daardie goedheid wat nooit verander nie.



Jou inspirasie vir die week: More than able



Comments


bottom of page