Hulle sê jy moenie agter jou loop kyk nie.
Maar ek kan dit nie help nie.
Ek wil terugkyk in hierdie jaar in en al die mooi goete raaksien
wat ek nie tóé kon sien nie.
Ek wil loop rondloop op daardie plekke waar my hart gebreek het
en my hand op my hart lê… well done.
Jy is nou hier.
Ek wil sonneblompitte gaan gooi al langs die kronkels van my teleurstellings –
daar waar ek my Krag gekry het…
en terselfdertyd wil ek onthou – álles onthou –
van die kere dat my hart en my mond saam kon lag.
Daardie kere toe die blygeit soos poele water oral
saamgedam het na die eerste reëns in die Vrystaat.
Ek wil alles loop uithaal en herbekyk en dankie sê.
Want al het so baie dinge gebeur en verander en gedim-en-bright die laaste 52 weke,
het ek
ge-l-e-w-e.
Hierdie jaar se storie kon ek nie selwers beter skryf nie.
Die manier waarop drade by drade van drade kon connect
en iets so magies kon baar…
Ek sê dankie vir my storie.
Dankie dat my storie deel kan wees van die ewig ontvouende misterie
van U verhaal.
[GELEEN & VRY VERTAAL]
Hierdie Verhaal se begin het begin nog voor my begin begin het. En al eindig my storie sal hierdie Storie lank na mý storie nog nie einde kry nie.
Tog glo ek met ‘n kinderlike geloof dat my storie en jou storie lankal reeds as deel van Die Storie se lyn beplan is. Karakterindelings is gedoen, tyd- en plekbepalings is vooraf besluit en kernmomente is ingeskryf om onse stories sin en betekenis te gee.
Om uit te kom daar waar die Skrywer die storie wil laat draai.
Die Skrywer is sekere vryhede toegelaat. Soms het dit tot muitery gelei en ander kere weer moes ons oopmond erken dat daar geen beter ontknoping van ‘n situasie kon wees as die een waarvan ons storie deel was nie.
Ons het nie altyd weke voor die tyd al die draaiboek ontvang nie, en soms moes ons mooi luister tussen alles wat op stel gebeur om te hoor wat presies die Skrywer se doel was met ‘n sekere toneel. Veral as daar op die laaste nippertjie veranderinge ingeskryf moes word.
Maar elke keer het die eindresultaat perfek by Die Storie ingepas.
Sommige kere het ons selfs die kans gekry om ‘n paar tonele óór te speel totdat ons dit perfek regkry. Soos wat die Skrywer dit beplan het.
Soms wou ek myself opruk en summier uit die hele projek onttrek, want dinge was net téonvoorspelbaar, té ontstuimig, té…. veeleisend!
Maar as ek ‘n boek oopslaan en die storie draal en is vaal en het geen eindpunt of rigting nie, word dit sommer vinnig-vinnig nog ‘n stofgaardertjie en dan onthou ek.
Dít maak juis die lewe interessant!
Dít gee my karakter ruimte om te groei!
Dít hou my storie vars!
Daardie momente wat net ‘n Skrywer van formaat kan uitdink en visualiseer.
Wat dit van my vra, is dat ek die Skrywer sal vertrou.
Al vra Hy van my om situasies te beleef wat ek eerder nie sou wou beleef nie.
Want selfs daar het Hy reeds die einde geskryf.
“Throughout my journey I’ve come to realize there are two things every Christian must have.
A broken watch. And a giant piece of chocolate.
The broken watch is to remind us that we’re working off God’s timing, not our own.
He’s writing your story, and you’re living it for Him, not the other way around.
And the chocolate, of course—well, you know what to do.
Betsy St. Amant
Jou temalied vir die week: Details
https://www.youtube.com/watch?v=4cgFKQRPegg
Comments