top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Dit begin by my


Dis vrek droog hier by ons. Vanoggend sê Ds David boonop dat hy op die radio gehoor het hulle voorspel nog ‘n droewiger vooruitsig vir 2018.


Hierdie spesifieke vertaling van Levitikus 26 kom toe by my op. Anders as in die Afrikaans, het dit vir my so ‘n persoonlike boodskap. Vers 3:


Faithfully obey my laws

and I will send rain to make your crops grow and your trees produce fruit.

(Faithfully obey my laws)

and your harvest of grain and grapes will be so abundant,

that you won't know what to do with it all.

(Faithfully obey my laws)

and You will eat and be satisfied, and you will live in safety.

Soveel wonderlike beloftes vir my eie, persoonlike self. As ek maar net my hardkoppige hart en moedswillige eiewil kan kry om saam te speel. Want daai wette… oi-joi-joi. Dis nie maklik nie, man!


Dit het my lank gevat om te leer: Wanneer Hy my vra om getrou Sy wette na te kom, is dit nie die ellelange lyste van moets en moenies waarvan die eerste paar boeke in die Bybel vertel en waaraan my liewe Joodse vriend so vashou nie. Nope.


Dis ook nie maar net om elke letter van elkeen van die Tien Gebooie getrou na te kom nie. (Ek sit daai pot in elk geval op ‘n daaglikse basis mis.)


So ‘n jaar of wat gelede maak die Here my oë oop vir ‘n waarheid wat Hy al so lank reeds met my deel, maar wat ek net nie kon raaksien nie. Toe die skille egter afval, toe verstaan ek vir die eerste keer dat die Tien Gebooie toe nou níé tien swepe is waarmee Hy my wil bykom wanneer ek dit mis nie.

Daardie Tien Gebooie, is eintlik soos tien kampdrade wat my – Sy kosbare skaaplam – wil beskerm en veilig hou. Binne die drade van hierdie kampie kan ek Sy liefde voel en Sy voorsienigheid en Sy beskerming ervaar. Sou ek dit egter waag om self deur daardie drade te breek, sal ek heel moontlik nie net ‘n stuk van my nerwe verloor nie. Ek sal ook die vyand moet trotseer wat soos ‘n brullende leeu daarbuite rondloop opsoek na iemand om te verslind.


Wanneer Jesus dan vir ons die nuwe gebod kom gee in Johannes 13, dan maak dit nie die ou wette tot niet nie. Dit bekragtig dit júís!


OMDAT JY MY LIEFHET, sal jy geen ander gode aanbid nie, sal jy nie My Naam misbruik nie…

OMDAT JY JOU NAASTE LIEFHET, sal jy nie moord pleeg nie, sal jy nie sy goed vat nie…


En asof die Here net wou sekermaak hierdie visuele kind van Hom vergeet dit nou nie weer nie, maak Hy vir my ‘n ‘reality movieclip’ wat reg voor my eie oë afspeel.


Dit was November 2016 en ek is Rietbron toe genooi. (Toemaar, min mense weet ook waar Trompsburg is.) Gaan soek dit gerus op! Vriendelike mense. Daai sout van die aarde waarvan die Bybel praat…? Daai stukkie het sekerlik iets met Rietbron te doen.


Ewenwel… Klaar met die dames gesels, val ek toe weer in die pad terug Jeffreys toe. Aanvanklik het ek met so ‘n draai via Steytlerville by hulle uitgekom, maar nou was die verlange na my man te groot en die beste pad was die kortste pad. Dit sou beteken Willowmore – Uniondale – Joubertina – Kareedouw om.


Dis ‘n pragtige teerpad en ek ry lekker kort duskant die spoedgrens iewers tussen die grondpad se afdraai Rietbron toe en Willowmore se indraai. Ek het net so oor ‘n knop gekom toe daar ‘n beweging hier op linkerkant my oog vang. Dit was ‘n verskrikte bosbokkie of rooi ribbok lammetjie of so ‘n liewe gediertetjie. Die arme ding was aan die verkeerde kant van die draad, aan die pad se kant, en het natuurlik sy bokhartjie lam geskrik toe hierdie vaart oor die bult kom.


Verward het die bokkie probeer om deur die drade binne-toe te breek, maar kon dit net nie regkry nie. My hart het sommer seer geraak om te dink ek het nou hierdie outjie so bang gemaak. Ek kon regtig sien hy dink die Filistyne is op hom.


Ek ry toe maar bietjie stadiger en kyk rond of ek nie êrens darem ‘n hek of iets in die draad sien waar hy weer kon ingaan nie. Niks. Dalk aan die ander kant van die pad? Ook niks. Maar ek kyk weer en dit slaan my tussen die oë.


Aan die ander kant van die pad, agter die drade, aan die regte kant van die kampie se omheining, is daar ‘n paar springbokkies besig om rustig te wei. Hulle maak skaars oogkontak met my, so tevrede is hulle in die plekkie waar hulle veronderstel is om te wees.


En die Here kom wys my. Daardie drade is jou beskerming, nie jou straf nie.

So… as Hy my dan vra om getrou by Sy wette te hou, is dit tot my voordeel. Maar nie net myne nie. Hoor wat sê Hy verder in Levitikus 26:


(Faithfully obey my laws)

and I will bless your country with peace, and you will rest without fear.

(Faithfully obey my laws)

and I will treat you with such kindness that your nation will grow strong,

and I will also keep my promises to you.


Wanneer ek doen wat Hy van my vra, seën Hy my. Maar meer nog. Hy seën my land.


En nou dink ek maar so: As ek dan getrou is, dan reën dit by my. En as my buurman getrou is, dan reën dit by hom. En as my buurman se buurman getrou is, dan reën dit by hom ook en dan kry vers 9 vir my nuwe betekenis:


(Faithfully obey my laws)

and I will treat you with such kindness that your nation will grow strong…

Lev 26:9 CEV


Sien, wanneer ek getrou bly aan die Here, maak dit nie saak of ek in ‘n kommunistiese land bly of nie. As die Here besluit om my te seën, dan seën Hy ook die land waarin ek bly.


Hierdie land se vooruitgang en voorspoed? Dit begin by my.



bottom of page