“God doesn’t miss a single opportunity
to teach us to trust Him.”*
Ek raak soms senuagtig dat my woorde vashaak op dieselfde grammofoonplaatgroefie. Maar dan onthou ek: “Write the story you want to read.” En soms het mens meer as een keer nodig om te hoor dat jy geliefd is, dat jy kosbaar is in Sy oë, dat Sy vuur om jou te seën selfs helderder brand as jou behoefte om geseën te word.
Gister staan ek tou buite die slaghuis naaste aan ons huis. Dit is in ‘n industriële ontwikkeling, want hulle het oorspronklik begin as ‘n spysenieringsverskaffer. Net in by die deur moet jy in ‘n lang gang afstap voordat jy by die winkeltjie kom.
Manlief het verlede keer aangebied om in die tou te staan. Daar word nou net 3 mense op ‘n keer daarbinne toegelaat. Later vertel hy my dat die man wat voor hom in die tou was, geweier het om in die gang te wag – soos wat al die ander mense maar doen. Hierdie kiem hou mos van klein spasies en baie asems het die man te vertel gehad, en hulle wag altwee toe maar buite op die sypaadjie.
Ek het net toevallig opgelet die man klim in ‘n NHS nood-ambulans kar. Toe ek van sy wysheid hoor, maak dit vir my sin.
Hierdie man sien nou al vir maande die effek van klein spasies en baie asems.
Hy sien mense wat getrou elke reël hou wat hulle gevra word om te hou, en steeds eensaam en baie gruwelik sterf.
Hy sien mense wat ongeërg voortgaan asof hierdie ding net iets is wat met ander gebeur, ‘n sameswering van die regering is, of onmoontlik nie so erg kan wees as wat BBC, SKY of CNN rapporteer nie.
Maar hy weet. Hy sien. En ‘wag’ kry vir hom nuwe betekenis.
“When you violate His principle to wait,
you always pay a price.”*
Dalk gaan dit nie net gaan oor ‘wag’ nie.
Hóé wag jy?
Wáár wag jy?
“Waiting is actively trusting God.”*
Watter kampie in jou lewe is jou sukkel-om-te-wag kampie?
Jou gesondheid…?
Jou besigheid…?
Jou kinders…?
Jou finansies…?
Is jou sukkel-om-te-wag reaksie binne-in daardie kampie om kwaad te word?
Moedeloos?
Depressief?
As jy hier lees, glo ek dat jy al ‘n pad met die Here gestap het.
Dalk is jou paadjie nog net om die eerste 200m-draai, of dalk het jy reeds al die oppe en affe van ‘n properse Comrades beleef.
Meer as een keer.
Daarom het ek die vrymoedigheid om jou te vra:
Met alles wat jy weet van die Here, dink jy regtig dat die Here iets van jou af sal weghou wat vir jou goed sal wees?
Met alles wat jy weet van die Here, dink jy regtig dat die Here iets van jou af sal weghou as dit nóú, in hierdie juiste oomblik, vir jou goed sal wees?
Waar ek gister buite op die sypaadjie wag vir my kans om deur die drukgang by die vleiswinkeltjie in te kom, staan ‘n minibusserige voertuig agter my in die straat en ek kan hoor die kinders is besig. Sal ek die baie Engelse tannie met ‘n baie moeilike en jy-soek-vir-my stem hoor tot hier langs my: “Wait! Stop it!” …en nog ‘n paar ander kleurryke woorde.
“Jou hemelse Vader wil net die beste dinge vir jou gee.
As jy ’n pa is, behoort jy dit goed te verstaan.
Jy wil mos graag net goeie dinge vir jou kinders gee, nie waar nie?
As jou kind vir jou ’n stukkie brood kom vra om te eet, sal jy tog nie vir hom ’n klip gee nie.
Jy sal ook nie vir hom iets slegs soos ’n slang gee as hy vis wil hê om te eet nie.
Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie.
As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee,
hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie?
Ek verseker julle: Hy sal net die beste dinge gee vir diegene wat Hom daarvoor vra.”
Mattheus 7:9 Die Boodskap
Kinders verstaan nie altyd die hoekoms en waaroms van hulle ouers se optrede nie.
Dan raak hulle opstandig, gooi tantrums en soms val die hele verhouding aan stukke – net hieroor.
As aardse ouers hulle kinders kan vergewe en terugneem en inwikkel in daardie holtetjie net agter die boonste ribbebeen, hoeveel te meer nie die Here nie?
As jy tot nou toe nie ‘n goeie wag-ter was nie, loop gee dit vir Hom.
As jy ‘n beter wag-ter wil wees, vra dit van Hom.
En wag dan.
Terwyl jy aktief weier om op te hou glo dat Hy net jou beste belange op die hart dra.
*Charles Stanley
Jou temalied vir die week: I will wait for You
Comments