As jy ‘n sekere graad van voetfoutjie begaan hier in die Verenigde Koninkryk, is daar nog ‘n kans dat jy ‘n ‘get-out-of-jail-free’ kaartjie kan kry. Wel, nie heeltemal ‘free’ nie – dit het my ‘n goeie £80 gekos hierdie week om ‘n National Driver Offender Retraining Scheme klas by te woon net sodat my bestuursrekord mooi skoon kan bly.
Aanvanklik het ek skaam-skaam hierdie ding probeer stilhou. Maar die feit bly staan: al het ek nie geweet dat ek fouteer het nie, was ek steeds verkeerd. En dit was eintlik ‘n groot seën dat dit al was wat my fout my gekos het.
Een ding wat dit my wel geleer het:
Sometimes you have to go places you don’t want to
to learn the things that you have to.
Ek kan nie help om elke jaar hierdie tyd herinner te word aan die pyn in my pa se stem as hy verdwaas vra of dit dan nie veronderstel is om die “mooiste, mooiste maand” te wees nie. Want op 22 Oktober is my ma oorlede. ‘n Jaar en 5 dae daarna – steeds in Oktober – was dit ook sý laaste dag op aarde. En ironies genoeg is albei my man se ouers ook in Oktober weg.
Dat een maand soveel belofte en tergelykertyd soveel seer kan inhou is een van die groot geheime van menswees, seker. Aan die een kant bekruip ek altyd die begin van Oktober met ‘n swaar hart, want ek weet wat kom.
Maar toe Pa Warrick hierdie week oorlede is, en nog ‘n merkie agter Oktober gemaak word, toe wonder ek of dit nie die Here se manier van genade vir ons is nie. Sou dit regtig vir my beter wees om dwarsdeur die jaar gedurig herinner te word aan die skaafplek op my hart?
Ek kan nie praat van jou seer nie, liewe leser.
Jou seer en die tydkerwe van jou seer is in God se beplanning vir jóú.
Maar Oktober is dalk vir my gegee soos die Camino wat jy nou stap, Hienkie. ‘n Tyd van besinning.
Toe ds Richard vanoggend met ons deel dat Johannes, Petrus en Jakobus dalk nie regtig lus was om ‘n bergpiek saam met Jesus uit te klim daardie oggend in Lukas 9 nie, kon ek eers nie verstaan nie. Totdat hy verduidelik het dat dit nie ‘n heuwel was nie, maar ‘n 6-ure klim na daar waar die top moontlik heeljaar met ‘n dik laag sneeu bedek is.
Hulle wou dalk nie gaan nie, maar as hulle níé gegaan het nie, sou hulle nooit ‘n glimps in die glorie van God in Jesus Christus gesien het nie, nooit gesien het hoe Sy menslikheid en Sy Godheid ontmoet in ‘n oomblik van heilige verootmoediging nie.
“Sowat agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n berg op gevat om daar te gaan bid. Terwyl Hy gebid het, het sy voorkoms skielik verander.
Jesus se klere het ook helderblink begin skitter. Twee mans het skielik aan Hom verskyn.
Dit was Moses en Elia. Hulle was self met glans omring.
Hulle het met Jesus gepraat oor alles wat op Hom in Jerusalem wag.”
Luk 9:28 Die Boodskap Vertaling
Daai bergtop was in ‘n sin Jesus se einde-van-September en Sy Oktober het ook heeltyd voorop in Sy gedagtes gelê. Maar Hy het nie teruggedeins daarvan nie.
En ek kan ook nie.
Dalk was Leipoldt nie heeltemal verkeerd nie. Dalk het ons dit net verkeerd verstaan, Pa. Dalk moes ons altwee net eers verder gelees het:
"Dit is die maand Oktober!
Ek dink die mense vier
Vir ewig in die hemel
Oktobermaand soos hier!"
Ek dink nie dis die mense in die hemel wat Oktobermaand anders moet vier nie, Pa,
maar ek en jy.
Jou temalied vir die week: Rescuer
Comments