Een van my vroegste herinneringe van ‘n sandsiwwery kom nog van Davidstraat se dae af. Ek sien nog so helder soos gister hoe my boetie sand skep en deur die gestaanmaakte sif gooi om seker te maak die klippe bly eenkant – seker weer vir een van Pa Jan se projekte.
Daar was verskeie suksesverhale: Die enig-in-hulle-soort tuinimplemente gesweis uit sy ewig-analitiese ontwerpersbrein, die buitekamer wat ‘n heerlike, koel grasdak lapa geword het, die 3m hoë buite-broodoond waar hy eendag so swetsend gebrand het…
Daardie sandsiwwery kom toe in my eerstejaar weer by my op. Vervoeringenieurswese was nie die mees opwindende vak nie, maar ten minste het ek iets verstaan van siwwe en klipgraderings en hoe elke grootte klip bedoel was vir ‘n spesifieke taak.
Meer interessant, was die praktiese deel van Konstruksie. Hier kon ons in die laboratoriums ons eie beton aanmaak, blokke daarvan giet, en dan laat droog word (cure) voordat ons hulle sterkte toets.
Daar is nie iets soos “sement” wat uit die aarde kom nie. Dit wat ons in sakke by Builder’s koop, is ‘n mengsel van kalk, klei en gips en gaan deur ‘n uitgebreide proses tot hulle in die sakke beland. Wanneer ons bou, word hierdie dan gemeng met sand, water en klip om beton te maak.
In die aanmaak van ‘n betonmengsel, is water die heel belangrikste komponent.
Dit moet die suiwerste water moontlik wees, anders mag dit die sterkte van die beton beïnvloed.
En die water:sement verhouding is krities belangrik om die perfekte betonmengsel te verseker.
Daar is egter nog ‘n geheim.
Beton moenie uitdroog om hard en sterk te word nie.
Dit moet so lank as moontlik nat bly…!
Die eenvoudige manier om dit te verduidelik is dat die sement deeltjies armpies het wat na mekaar toe groei en hoe meer armpies aan mekaar kan vashou, hoe sterker sal die mengsel wees. Maar dit het water nodig om die armpies te laat groei.
(Onthou julle die Gremlin-movies? Een fliek in die skoolsaal wat ek nooit sal vergeet nie! Weet nie hoe hulle ons kleintjies daar kon toelaat nie. Daai wolgedroggies wat groei as die water hulle tref, het my vir baie lank gejaag!)
Die ideaal is dus om die beton nat te hou sodat die armpies kans kan kry om hulle vatte ordentlik te vat, en word daar ‘n 28-dae toets gedoen om juis dit te bepaal. Beton in praktyk kan egter tot jare vat om hulle maksimum sterkte te bereik.
Op bouterreine oral om julle, is dit die rede dat julle sal sien dat beton wat gegooi is, natgespuit word vir weke aaneen.
Method in the madness.
Die water raak dieper en dit voel of jy sink.
Maar in Sy alwetendheid weet Hy dit maak jou makliker om mee te werk.
Sterker vir eendag.
En van die heel begin af het die Gees al begin om jou te sif totdat die regte deeltjies van jou vir jóú taak in jóú storie al is wat agterbly.
Sodat jy jare later kan jy terugstaan en sien: Dit was goed.
“Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde.
Die liefde bind alles volmaak saam.”
Kol 3:14 NLV
Jou temalied vir die week: Shelter in
Comments