Ek het myself nog nooit uitgegee as ‘n waternimf nie. ‘n Swembroek is nie my maatjie nie en ek ry nie Supertube nie. Sonder om te erg te tipeer – ek is ‘n Vrystater en my fassinering met water sal seker altyd oor ‘n afstand geskiet.
So bevind ek my vandag op die hoë kant van ‘n seiljag tussen Southampton en die Isle of Wight vir ‘n werkgedoente. Daai prentjies waar die outjies se voete 2m bo die water van die boot af hang terwyl die ander sy van die boot op die blinksee sleep…?
Daai was my voetjies vandag.
Wonder bo wonder was ek eintlik uitermatig-vreemd rustig. Soveel so dat ek bietjie kon dink oor hierdie hele situasie waarin ek my bevind.
Een van my kollegas word genooi om die wiel te vat. Die seile word gespan, hy kry aanwysings van die kaptein langs hom vir watter boei om te mik en ek dink hy maak mooi. So 30 minute later hoor ek egter ‘n baie kwaai, “No, don’t!” van die kaptein.
Díé gryp die skeepswiel, korrigeer wat dit ookal was wat hom so paniekbevange gemaak het, en ons vaar voort, meer veilig vas aan die oorkant.
Na ‘n gesellige ete op terra firma was dit tyd vir terugvaar, maar hierdie keer het die wind besluit om op te staan. Branders in die gesig en sopnat orals anders, klou Magriet so dat sy hoop niemand sien nie – wat anders kan sy doen?
Terug aan die veilige kant van die Solent seestraat, word dieselfde kollega gevra om die seil te help sak, en met amper dieselfde militaristiese ongeduld hoor ons kort voor lank, “Stop… Stop!!”
Nie alleen het ek empatie met my ewe-onervare seevaarder seun van Mpumalanga nie, ek kon ook nie help om te dink aan al die maniere waarop hierdie my níé laat dink aan Jesus nie.
“One day He and His disciples got in a boat. ‘Let’s cross the lake,’ He said.
And off they went.
It was smooth sailing, and He fell asleep.
A terrific storm came up suddenly on the lake.
Water poured in, and they were about to capsize.
They woke Jesus: ‘Master, Master, we’re going to drown!’
Getting to His feet, He told the wind, ‘Silence!’ and the waves, ‘Quiet down!’
They did it. The lake became smooth as glass.
Then He said to His disciples, ‘Why can’t you trust me?’”
Luke 8:22 The Message
Die dissipels het dalk paniekerig geraak.
Hulle het dalk die seile te vinnig laat sak, of die toue laat koek of die skeepswiel ‘n aks te vinnig gedraai binne-in die storm.
Maar Hy laat hulle nie skrik met Sy stemtoon wanneer Hy opdaag nie.
Hy bestraf die storm met Sy kwaai vat-so-stem,
en nie hulle reaksie daarop nie.
Dít spreek Hy aan met ‘n weer-kyk.
Kyk weer.
“Hoekom vertrou julle my nie?”
Daar is geen Bybelvertaling wat ek kon vind wat vir my hierdie sinnetjie in ‘n snydende, hoë volume, bakleierige stemtoon kon laat klink nie.
Daar leer ek toe my les vandag.
Wanneer my mense sukkel met die storms om hulle, wil ek hulle soms kwaai reghelp.
Maar duidelik is ek nie Jesus nie.
Laat ek maar eerder maak soos Hy maak.
Jou inspirasie vir die week: Never walk alone
Comments