top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Ek sal nie bang wees nie

Updated: Feb 4, 2023




Vrees kom in sulke vreemde vorme. En voordat jy nie geleer het om al sy kostuum- verwisselings te herken nie, mag hy jou dalk net flous.


Wanneer Jesus in Matteus 18 praat oor Sy liefde vir kindertjies en wat Hy beplan vir elkeen wat hulle weg na die Vader probeer blokkeer, gebruik Hy geen onduidelike terme nie:


Toe sê Hy: “As julle nie met ander oë na die lewe begin kyk en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.

“Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk. En elkeen wat ’n kindjie soos hierdie een ter wille van My verwelkom, verwelkom My. Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ’n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ’n meulsteen om sy nek in die see te verdrink.

Mattheus 18:3 NLV


Vandag verstaan ek dat elkeen wat die opregte geloof van iemand van 4 of 5 of 45 jaar oud probeer ondermyn deur hulle te dreig, te verkleineer of te intimideer, reeds hulle vonnis ontvang het.


“Dié wat ander tot ’n val bring, bring ellende in die wêreld! Daar sal noodwendig sulke mense wees, maar God sal die mens straf wat iemand anders tot ’n val bring.”

Vers 7


In Die Boodskap-vertaling staan daar:


“Maar elkeen wat veroorsaak dat een van hierdie ou kleintjies se geloof ’n knou kry,

gaan in groot moeilikheid wees.”


En kom ons wees nou maar eerlik: Soms is ons geloof so kwesbaar soos ‘n kind s’n omdat ons in ‘n situasie is wat voel of dit uit beheer is – uit óns beheer is, om presies te wees. Dit is dan dat ons die weerloosheid verstaan van ‘n kind, maak nie saak wat ons ID sê nie.


Max Lucado vertel egter dat die enigste persoon wat die vreeslose vermetelheid kan hê om in die middel van die nag vir die koning te vra vir ‘n glas water, sy kind is.


En ons het daardie voorreg.

Dit is die wêreld en sy bankmaakgoggas wat ons wil laat verstaan dat wanneer ons ‘n sekere ouderdom of ‘n sekere posvlak of ‘n sekere senioriteit bereik het, ons geïsoleer staan, dat ons dan ons eie gevegte moet veg.


Sê wie?


Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo,

het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Joh 1:12 1983-vertaling


Ons hoor so baie dat ons die Here weer die regmatige plek in ons lewens moet gee.

Dit beteken Hy moet weer bo ons eie pret en plesier, ons eie belange, ons eie idees van ons doel op aarde staan.


Dit beteken egter ook dat Sy plek in ons lewe bo vrees vir mense en hulle uitsprake en dit wat hulle moontlik aan ons kan doen, moet wees.


Aardse outoriteit verdien respek.

Maar daar is geen outoriteit op aarde vir wie vrees die aanvaarde reaksie van kinders van God behoort te wees nie.


As jy hierdie week daai kettings van vrees met mag van jou afskud,

of jou laaste krag gebruik om jouself daar uit te wriemel,

mag jy ervaar hoe Hy self jou kneusplekke versorg en jou kop oplig.


Want vrees is nie van die Here nie.


For God has not given us a spirit of fear and timidity,

but of power, love, and self-discipline.

2 Tim 1:7 NLT



Jou inspirasie vir die week: Rapha




Comments


bottom of page