top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

En daar was vrede in daardie land



Vir iemand wat by die see bly, is ek seker in die minderheid as sê dat ek mal is oor ‘n bewolkte, toegetrekte dag wanneer die son nie eers een keer vir my kom knipoog nie. Dan kry ek dinge gedoen! Ek het energie en ek floreer! En daar is ‘n naam vir dit ook. Volgens Google is ek ‘n “pluviophile”. Daar is nie ‘n mooi Afrikaanse term hiervoor nie, maar as jy die woord in sy eenvoudigste vorm gaan afbreek, is ek eintlik maar verlief op die reën.


Wanneer die eerste druppels val, of ek selfs net die belofte van ‘n klop aan ons voordeur ruik, verdwyn die donker wolke om my en lyk alles sommer beter. My man spot altyd met ‘n groot glimlag: “Mmmm, jy het alweer ‘n persentjie gekry!”


In dieselfde asem: Daar waar daar níé wisselvallige weerpatrone en huilende winde en oordadige donder is nie, klink vir my ook nie na ‘n slegte plek nie. Want soms raak dit bietjie erg. En anders as wat ons veearts glo, is die kalmeerpille vir my honde se bewerasie wat met die donderweer kom, en nie vir my eie gebruik nie. Belowe, Louis.


Maar waar sal jy dit kry, wonder jy dalk? So ‘n plek wat nie “weer” het nie?


Net twee luglae van ons eie aarde af. Dis ook net op daardie plek in die stratosfeer waar die osoonlaag homself bevind en soos ‘n wafferse superhero die skadelike strale van die son weghou van delikate mensevelletjies.

Verstaan ons werklik hoe fyn die skeiding is tussen ons en ons heengaan? Dink daaroor.


Daar moet seker al ‘n hele liasseer-afdeling wees vir al my eie “near-misses”– meer akkuraat sal seker wees “near-hits”. Dink my beskermengel kan eintlik al vroeg aftree met al die oortyd, maar dan mik ek weer vir die randsteen en sy word uitgeroep!


Vanaand is my hart seer as ek dink aan ons eie land wat vir so lank al op ‘n mespunt balanseer. Nes dit voel daar is ‘n bietjie standvastigheid, ‘n kalmte wat intree, dan verskyn ‘n somersdonderbui vanuit nêrens en al wat reënboogkind is moet vashou, anders word jy meegesleur.


Sulke dae is ek nie lief vir die reën nie.


Sulke dae moet ek die Here vra om my te help verstaan, want


“Every person

has at least one secret

that would break your heart.”


Dit beteken nie ek hoef dit wat uit daardie wegsteekplek in hulle harte gebore is, goed te praat nie. Maar ek kan die Here vra om my te help om vir hulle ‘n pleister vir die siel te help soek, te vind.


Teen Joshua 14 was daar nog steeds nege en ‘n half stamme wat nog nie ‘n stukkie grond gekry het nie. En dan lees ons in vers 5:


“When the priest Eleazar, Joshua, and the leaders of the families and tribes of Israel met

to divide up the land of Canaan,

the Lord showed them how to do it.”


Net daarna gaan Kaleb – die enigste oorspronklike recce wat saam met Joshua toegelaat is om Kanaän in te gaan – na Joshua toe en vra hom vir die stuk grond wat die Here hom daardie tyd reeds beloof het. En Joshua bid en vra die Here om Kaleb asseblief suksesvol te laat wees en die heidense volk van sy erfporsie te help verjaag. En die Here is getrou aan Sy belofte.


“And Hebron still belongs to Caleb's descendants,

because he was faithful to the Lord God of Israel…

There was peace in the land.”

Joshua 14:14, 15


Kaleb het gegaan toe hy moes gaan en hy het die Here gehoorsaam.

Die leier van die land bid tot die Here, erken Sy soewereiniteit, Sy almag, en pleit Sy guns oor hulle.

Die Here erken hom hiervoor.


En daar was vrede in daardie land.


Beide Kaleb en Joshua het besef:

Alles wat ons het, is die Here s’n.

Alles wat ons wil hê, is die Here s’n.

Niks is joune nie.

Niks is myne nie.


As die Here dit nie so bewil nie, kan ek dit nie bewerk nie.

Al gee die Here my alles wat ek ooit kan begeer, sal goed en geld en grond steeds nie die tooiings van my hart aanmekaar kan flans nie.

Net die Here kan my ‘n nuwe hart gee.


Net die Here kan vir Suid-Afrika ‘n nuwe hart gee.


En as dit gebeur en ons respekteer ook mekaar se seer, al verstaan ons dit nie, dan maak selfs die osoonlaag vir ons meer sin.


Want in ‘n wêreld waar ons mekaar partykeer wil laat doodbrand, gryp die Here in en sê: “Nog nie. Leer vir nog ‘n ruk by mekaar, tot Ek weer kom.”


Wat laat ons dink dat ons dag-vir-dag God kan speel met mense se lewens?

In ‘n oogknip kan Hy ‘n Noag-besluit neem en ons almal laat gaan en oor begin.

Hy het dit al vantevore gedoen.


Here, ek bring vanaand my land as ‘n offer by U voete.

Vorm ons en maak ons aanneemlik voor U aangesig.

(Al is dit seer.)

Amen



Jou temalied vir die week: CANYONS



Comments


bottom of page